
Die Bybel is kosbaar!
Vervolgde Christene ontvang hul eie Bybels.
God se Woord word vanaf Kenia tot in Venezuela gekoester en dit verander mense se lewens.
“Dankie dat julle vir ons ʼn Bybel gegee het! Julle het ʼn groot impak op ons kerk gemaak.”
Betuigings van dankbaarheid soos dié was volop tydens ʼn Bybelverspreidingsgeleentheid by ʼn kerk in die kusgebied van Kenia. Kerklidmate was so opgewonde en oorweldig om ʼn Bybel in hul eie taal (Swahili) te ontvang dat hulle die Here spontaan begin loof en prys het: “U gedagtes is nie ons gedagtes nie, Here.”
Geopende Deure-vennote het tydens ʼn besoek aan die vervolgde Kerk 30 Bybels uitgedeel. Ondersteuners kon sien wat dié vennote se werk behels, asook die impak wat hul werk op vervolgde Christene het.
Christene in hierdie deel van Kenia, veral bekeerlinge vanuit Islam, staar gewelddadige vervolging deur hul Moslem-bure en die Islamitiese ekstremistegroep, al-Shabaab, in die gesig. Al is al-Shabaab meer bekend vir hul teenwoordigheid in Somalië, is hulle ook aktief in die grensgebiede van Kenia se kusgebied.
Die lewens van Christene in hierdie gebied word egter op dieselfde manier deur Bybelskenkings versterk as met die lewegewende sending waarmee Geopende Deure se stigter, Broer Andrew, begin het toe hy in die 1950’s Bybels agter die Ystergordyn gesmokkel het.
Die Bybels help hierdie vervolgde broers en susters om die Woord in hul eie taal te bestudeer terwyl hulle in hul verhouding met God groei en hulself voorberei om sterk in hul geloof te staan.
“Julle het my baie geleer. Ek is so dankbaar,” het een van die ontvangers van ʼn Bybel ons meegedeel.
Geopende Deure het al aan miljoene mense Bybels gegee sedert dié sendingorganisasie in die 1950’s gestig is. Dit was dikwels die eerste keer wat ʼn vervolgde gelowige ʼn kopie van God se Woord ontvang het.
Geopende Deure werk al sedert die 1990’s in Kenia deur plaaslike vennote en kerke. Hierdie vennote is God se hande en voete waardeur Geopende Deure spesifieke hulpbronne verskaf, soos dissipelskapopleiding, vervolgingsvoorbereidheid-opleiding en Bybelse leierskap- en voorspraakopleiding. Hulle bied ook geleenthede waar nodig vir ekonomiese bemagtiging en emosionele berading aan gelowiges wat trauma weens vervolging beleef het.
Danksy die geskenke en gebede van Geopende Deure-vennote soos jy, loof ons vervolgde broers en susters God vir die gawe van sy Woord!
Dit was altyd vir Broer Andrew baie spesiaal om gelowiges se gesigsuitdrukkings te sien wanneer hulle hul eie Bybels vir die eerste keer vashou. Net só het een van die besoekers ook sy belewenis gedeel: “Om te sien hoe die gelowiges hul eie Bybels ontvang en om hul getuienisse te hoor, het my laat besef dat ons deur ons geloof aan mekaar verbind is. Ek bid dat die Woord van God hulle sal help om al hoe meer in hul geloof te groei.”
Pastore in Venezuela se dankbaarheid vir nuwe Studiebybels
Pastore wat kerke in die noordweste van Venezuela lei, het God geprys vir ʼn skenking van meer as 130 Studiebybels wat deur Geopende Deure moontlik gemaak is. Die pastore het ʼn werkswinkel in bedieningsleierskap bygewoon om hulle te help om hul bedienings te versterk en hul impak te vergroot te midde van die land se ekonomiese ineenstorting en politieke druk. Aan die einde van die werkswinkel het hul elkeen sy eie Bybel ontvang. Hul vreugde was tasbaar.
Ons vennote het die Studiebybels uitgedeel aan kerkleiers in ʼn gebied waar ekonomiese agteruitgang en politieke korrupsie tot voedseltekorte gelei het. Meer as sewe miljoen mense het die land sedert 2015 verlaat. Kerkleiers sukkel om hulself en hul gemeentes te onderhou.
Hoewel daar godsdiensvryheid in die land is, is die kerk nie heeltemal vry nie. Wanneer kerke uitlatings maak waarvan die regering nie hou nie, kan hulle gesensor word en diskriminasie en vervolging beleef.
Boonop maak die groter teenwoordigheid van paramilitêre magte, wat die bevolking in landelike en/of armer dele beheer, dit moeilik vir pastore en leiers om hul werk te doen.
Dit is waarom Geopende Deure ʼn werkswinkel aangebied het met ʼn fokus op leierskapvaardighede vir bedienings. Aan die einde van die werkswinkel het 138 kerkleiers elkeen sy eie Studiebybel ontvang. Hulle het aan ʼn intensiewe vier uur lange oriëntasiesessie deelgeneem om hulle toe te rus en te bemagtig om die Skrif te gebruik om hul bedienings regoor die gebied te versterk.
Net soos die mense vir wie Broer Andrew Bybels gegee het, was dit ook vir hierdie kerkleiers ʼn emosionele oomblik toe hulle die Studiebybels as geskenke ontvang het. Hulle het hul dankbaarheid teenoor ons span en julle, ons vennote, uitgespreek. Danksy julle gebede en geskenke kan ons die Woord van God bring aan leiers wat hul passie uitleef om toe te sien dat die Evangelie in hul gemeenskappe versprei word.
“Ons besef dat ons deur die werking van die Heilige Gees, en met die hulpbronne wat julle vir ons gee, in wysheid kan groei,” het pastoor Luis, wat ʼn Studiebybel ontvang het, gesê. Hy het bygevoeg dat die Bybel hom baie in sy bediening gaan help.
Bid saam met ons vir hierdie kerkleiers terwyl hulle hulself in God se Woord verdiep en dit in hul gemeentes en gemeenskappe verkondig.
“Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie, maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: Dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” – Jesaja 55:10-11
Jy kan help dat meer vervolgde gelowiges sterk kan staan in God se Woord.
Sal jy dit oorweeg om ʼn Bybel, asook die nodige toerusting om die Bybel te verstaan, teen slegs R180 te skenk?
