Skip to content

Roep uit vir beskerming

Ons bring vandeesmaand ons geloofsfamilie in Uganda voor die Here, waar hulle deur jihadistiese groepe geteiken word.

Ons lees saam:

Wees my genadig, Here, want ek is in die nood;

van verdriet het my oë swak geword,

ja, alles in my.

My lewe vergaan van kommer

en my jare van swaarkry;

deur my ellende word my krag geknak

en teer my liggaam uit.

Psalm 31:10-11

Oordenking

Uganda is die vyfde gewelddadigste land vir Christene in sub-Sahara Afrika. Selfs al ondersteun die regering en samelewing godsdiensvryheid, beleef Uganda sedert 2020 ʼn toename in terreuraanvalle. Dit sluit die Lhubiriha-skoolslagting van 2023 in, waar 42 mense, insluitende 38 tieners, tragies doodgemaak is.

Dit blyk dat die Geallieerde Demokratiese Magte (ADF), wat aan die Islamitiese Staat-groepering in die Demokratiese Republiek van die Kongo verbonde is, Uganda teiken. Die ADF maak jaarliks honderde burgerlikes dood in die Kongo.

Dit is kommerwekkend dat ʼn militante groep soos die ADF selfs in ʼn land soos Uganda hul Islamitiese ekspansionistiese ideologie kan implementeer deur onskuldige burgerlikes te terroriseer.

Kom ons roep saam uit vir die beskerming van ons broers en susters, wat daagliks in vrees lewe dat hulle deur groepe soos die ADF geteiken sal word.

O genadige God, ons Toevlug en Beskermer, U sien elke verborge gevaar, elke kind in gevaar, elke gelowige wat bedreig word omdat hulle U volg, raak. Vader, nader tot U mense in Uganda en beskerm hulle teen die aanvalle van die bose.

Terwyl ons soos die Psalmskrywer uitroep en God vra om hulle te beskerm, vertrou ons op die Here, ons God, en plaas ons ons lewens, en dié van ons familie in Uganda, in sy hande (Psalm 31:15-16). Ons weet dat die Here ons beskerm deur ons te onderhou en te help in alles wat ons in hierdie lewe teëkom. Ons hou dus goeie moed en vertrou op die Here (Psalm 31:24-25).

Reflekteer

Hoe maak Psalm 31 jou meer bewus van die omvang van Uganda se swaarkry?

Hoe lyk dit vir jou om God te vertrou vir sy beskerming in tye van vrees en onsekerheid?

Reaksie

  • Weeklaag oor die geweld, druk en vyandigheid wat gelowiges in Uganda beleef.
  • Bid dat God kinders en kwesbare bekeerlinge sal beskerm.
  • Bid vir krag, moed en eenheid in die Kerk.
  • Vra dat God stelsels van uitbuiting en radikalisering sal ontbloot en afbreek.

*Let wel: Geweld word in die Wêreldwaarnemingslys (WWL)-metodologie gedefinieer as die ontneming van fisiese vryheid, liggaamlike leed aan Christene of skade aan hul eiendom. Dit sluit ernstige dreigemente (geestelike mishandeling) in.

Back To Top
No results found...