
Roep uit vir vertroosting
Ons rig dié maand ons harte op Kameroen, waar radikalisering eskaleer en vroulike bekeerlinge veral kwesbaar is om gedwing te word om met nie-Christene in huwelike te tree.
Dié maand se leesstof
Word wakker!
Waarom slaap U, my Heer?
Staan op!
Moet ons nie vir altyd verstoot nie.
Waarom verberg U u gesig,
vergeet U ons ellende
en ons verdrukking?
Want ons smelt weg in die stof,
ons liggame kleef aan die grond.
Staan op! Kom ons tot hulp
en bevry ons op grond van
u troue liefde.
Psalm 44:24-27
Oordenking
As die vierde mees gewelddadige land vir Christene in sub-Sahara Afrika, staar gelowiges geweld en aanvalle in die gesig van Islamitiese ekstremistiese groepe, veral in die Verre Noord-streek.
In die noordelike streke eskaleer radikalisering onder beduidende Moslem-bevolkings. Terselfdertyd teiken gewapende separatistegroepe gemeenskappe in die noordwestelike en suidwestelike streke wat oorwegend Christene is. Bekering vanuit Islam na Christenskap is ook uiters gevaarlik.
Ons weeklaag dus vandag oor die toenemende gevaarlike situasie vir Christene in die land.
O God van alle vertroosting, wat naby diegene kom wat seergemaak word, U sien die geweld wat ons familie in Kameroen teister en die trauma wat vroue en meisies ervaar. Ons bring hulle pyn voor U, en pleit vir U genade en geregtigheid om te seëvier.
Terwyl ons namens hulle uitroep, bly ons vertrou dat God hulle weens Sy onfeilbare liefde op die regte tyd sal red (Psalm 44:27). En soos Hy oor en oor gedoen het, sal Hy hulle ʼn oorwinning oor hul vyande gee (Psalm 44:8).
Reflekteer
Wat breek jou hart vandag terwyl jy oor die lyding van ons familie in Kameroen nadink?
Hoe sou dit vir jou lyk om op ʼn tasbare manier “saam met diegene wat huil, te huil”?
Reageer
- Weeklaag oor die geweld, vrees en onreg wat gelowiges in Kameroen verduur.
- Bid vir beskerming, genesing en herstel vir vroue, kinders en ontwortelde gesinne.
- Tree in vir dapper leierskap in die Kerk.
- Vra God om geregtigheid vir slagoffers te bring en die harte van oortreders te versag.
*Let wel: Geweld word in die Wêreldwaarnemingslys (WWL)-metodologie gedefinieer as die ontneming van fisiese vryheid, liggaamlike leed aan Christene of skade aan hul eiendom. Dit sluit ernstige dreigemente (geestelike mishandeling) in.
