Skip to content

Mediaverklaring: Geopende Deure herdenk Vervolgingsondag

Die bedieningsorganisasie Geopende Deure Suider-Afrika het ʼn spesiale veldtog bekendgestel om Vervolgingsondag op 15 Junie 2025 te herdenk. Dié veldtog is daarop gemik om kerke en ander Christelike organisasies betrokke te kry om bewustheid oor die benarde situasie van vervolgde Christene te skep.

Die eerste Sondag ná Pinkster is wêreldwyd bekend as Vervolgingsondag. Hierdie dag fokus op die verskriklike vervolging wat Christene in talle lande dikwels weens hul geloof verduur – met gelowiges wat dikwels tronkstraf, diskriminasie, verwerping, marteling en selfs die dood in die gesig staar.

Baie mense besef nie dat die vervolging van Christene al eeue gelede begin het en vandag steeds ʼn werklikheid is nie. Die vervolging van Christene het kort ná Jesus se hemelvaart begin, toe ʼn groep van Sy volgelinge in die vroeë Kerk ná Pinkster in Jerusalem bymekaar gekom het om saam te bid. Nadat hulle met die Heilige Gees vervul is, het hulle begin om die Goeie Nuus oor Christus te versprei en het die vervolging van die vroeë Kerk momentum gekry.

Die Bybel dokumenteer die begin van die vervolging van Christene as kort ná die uitstorting van die Heilige Gees, met die arrestasie van Petrus en Johannes. Daarom word dit simbolies verklaar as die “begin” van die vervolgde Kerk.

ʼn Stem vir vervolgde gelowiges

Geopende Deure is ʼn stem vir vervolgde gelowiges in meer as 70 lande regoor die wêreld. Meer as 380 miljoen Christene ervaar hoë vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof – ʼn toename van 15 miljoen sedert verlede jaar. Hierdie syfer verteenwoordig een uit elke sewe Christene wêreldwyd.

Die tema van Vervolgingsondag is vanjaar “Die vervolgde Kerk in Afrika”. Miljoene Christene in sub-Sahara Afrika staar gewelddadige vervolging in die gesig weens hul geloof, wat tot ʼn verbysterende ontwortelingskrisis lei. Altesaam 16,2 miljoen Christene in dié streek is tans ontwortel en bly in haglike omstandighede in ontwortelingskampe, wat daartoe lei dat Afrika die grootste ontwortelingskrisis in die wêreld het.

Die Vervolgingsondag-geleentheid vorm ook deel van Geopende Deure se Arise Africa-veldtog, wat ʼn meerjarige reaksie is op die aanhoudende geweld waarmee Christene in die streek geteiken word. Dié veldtog, wat in samewerking met Christelike leiers regoor sub-Sahara Afrika aangepak word, het ten doel om die Kerk in Afrika in staat te stel om in geloof sterk te staan waar vervolging die ergste is.

Kommerwekkende vlakke van geweld in sub-Sahara Afrika

Aanvalle op Christene in sub-Sahara Afrika het onrusbarende vlakke bereik, en die Kerk het ondersteuning nou meer nodig as ooit tevore. Altesaam 90% van alle godsdienstig gemotiveerde moorde vind in Afrika plaas, met drie uit vier van die terroristegroepe wat vir die meeste sterftes in die wêreld verantwoordelik is wat op hierdie kontinent bedrywig is.

Die Kerk in Afrika is die grootste en jongste ter wêreld, maar ʼn ongekende aanslag bestaan daarteen. Die Globale Terrorisme-indeks 2024 bevestig dit, met data wat bewys dat die geweld in sub-Sahara Afrika die afgelope 15 jaar met meer as 2 000% toegeneem het. Hierdie streek is nou die episentrum van terrorisme, met meer sterftes in 2023 as in Suid-Asië, die Midde-Ooste en Noord-Afrika gekombineer.

Volgens Geopende Deure se nuutste navorsing is ʼn konserwatiewe beraming dat 92% van die 4 476 wêreldwye moorde van Christene weens hul geloof in sub-Sahara Afrika plaasgevind het. Altesaam 11 van die 15 lande waar Christene die mees gewelddadige vervolging weens hul geloof in die gesig gestaar het (tussen Oktober 2023 en September 2024), is in sub-Sahara Afrika.

Vervolgingstatistieke

Die volgende statistieke is gedurende die Wêreldwaarnemingslys 2025-navorsingstydperk (1 Oktober 2023 tot 30 September 2024) in sub-Sahara Afrika aangeteken, weens geloof:

  • 1 815 Christene is seksueel mishandel of aan gedwonge huwelike onderwerp.
  • 3 623 Christene is ontvoer (3 300 slegs in Nigerië).
  • 4 602 Christene is doodgemaak, wat 92% van die wêreldwye totaal is (9 uit 10 slegs in Nigerië).
  • 12 880 Christen-huise of eiendomme is aangeval.
  • 17 498 Christene is fisies of sielkundig mishandel.
  • 112 700 mense in die streek is ontwortel.

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê: “Christene in sub-Sahara Afrika betaal ʼn hoë prys vir hul geloof. Vanjaar se Vervolgingsondag-aktiwiteite is ʼn geleentheid om meer oor die situasie te leer en namens hulle op te tree. Ons doel is nie net om talle gemeenskappe in Suidelike Afrika te kry om aan die dag deel te neem nie, maar ook om hul verbintenis met die vervolgde Kerk vir die toekoms te versterk.”

Maniere om betrokke te raak

Individue, kerke en ander organisasies kan op die volgende maniere betrokke raak en bewustheid in hul gemeentes skep:

  • Wees ʼn spreker by jou kerk op Vervolgingsondag: Enigeen kan ʼn stem wees vir vervolgde Christene wat nie in staat is om vir hulself te praat nie deur op 15 Junie ʼn vrywillige spreker by hul eie kerk te wees. Om ʼn Vervolgingsondag-byeenkoms by jou kerk te reël, is die ideale manier om te help om die boodskap van die vervolgde Kerk te versprei.
  • Nooi een van Geopende Deure se vrywilliger-sprekers na jou Sondag-kerkdiens: Geopende Deure se vrywilligers gaan op Sondagoggend, 15 Junie, persoonlike aanbiedings by kerke regoor die land doen. Hulle sal getuienisse deel oor die opofferings wat vervolgde Christene vir hul geloof maak en oor hoe Jesus Christus getrou is en hierdeur verheerlik word.

Mense wat registreer om ʼn Vervolgingsondag-byeenkoms te reël, sal toegang kry tot al die relevante materiaal, soos ʼn PowerPoint-aanbieding oor die tema, video’s, gebedskaartjies en materiaal vir kinders.

Geopende Deure streef daarna om die byeenkoms op die agendas van soveel kerke en ander Christelike organisasies in Suid-Afrika en sy naburige lande as moontlik te kry, met ʼn beroep op kerke om betrokke te raak by die herdenking van Vervolgingsondag tydens hul eredienste op 15 Junie en die verspreiding van die boodskap oor vervolging regoor sub-Sahara Afrika.

Meer inligting

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak of vir die byeenkoms te registreer, besoek Geopende Deure se webtuiste by www.opendoors.org.za.

Vir enige navrae of om ʼn onderhoud oor Vervolgingsondag te reël, kontak Elizabeth Botha, Geopende Deure se mediabeampte, by [email protected], 083 227 8164 of 011 888 9341.

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 70 lande regoor die wêreld dien deur die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, die verskaffing van dissipelskap en opleiding, en voorspraak om bewustheid te skep.

 Mediaverklaring uitgereik deur Elizabeth Botha

Mediabeampte: Geopende Deure Suider-Afrika

Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341

E-pos: [email protected]

Back To Top
Soek