Skip to content

ʼn Moslem hoor Jesus sê, ‘Volg My’ – en nou help jy hom om vas te staan

Farah se storie is merkwaardig, want al het hy grootgeword in ʼn Moslemhuis in Afrika, het hierdie gelowige van Somaliese afkoms, Jesus liefgehad vandat hy baie jonk was.

“Toe ek agt was, het ek ʼn onbekende stem gehoor wat vir my gesê het om Hom te volg. Daarna, het ek ʼn begeerte gehad om meer van Jesus te weet,” sê Farah.

Dit is toe dat Farah sy Christenbure begin besoek het. Toe sy ouers dit agterkom, het hulle die bure gewaarsku om Farah hul huis te belet, maar hy het steeds uitgeglip om hulle te sien. “My gesin het gesê, ‘Hy is vasgevang in die boosheid van Christenskap.’”

Op 13 is Farah uit die skool geskors omdat hy die Evangelie aan sy vriende verkondig het. En toe sy ouers sy Christenskap ontdek het, het hulle hom ook vervolg. Toe, op 17, is hy vir ses maande in die tronk opgesluit omdat hy die Evangelie bly verkondig het – en sy pa wou hom doodmaak.

Farah het later met ʼn vrou getrou, “wat die oortuiging van my geloof gehad het. Ons het saam gebid en goeie samesyn met mekaar en ons kinders gehad. Sy was baie toegewyd aan Christus.”

Mettertyd het die vervolging toegeneem en Farah is geforseer om weg te kruip en sy gesin agter te laat. Na vier maande kon hy terugkeer huis toe, maar die skeiding was baie moeilik vir sy vrou en kinders wat swaar gely het in sy afwesigheid.

Ongelukkig kon sy vrou die gewelddadige teenstand nie meer verdra nie en het sy teruggekeer na haar ouers se huis. Sedertdien is Farah ook heeltemal deur sy gemeenskap versaak, wat hom sonder enige vorm van inkomste gelaat het.

Toe sy nood die grootste was, het Geopende Deure – vriende soos jy, vir hom in gebed getree en hom gehelp om ʼn nuwe onderneming te begin om ʼn inkomste te verdien.

Farah is dankbaar vir jou gebede vir hom wat hom help onderhou terwyl hy onder moeilike omstandighede vir Christus leef.

“My vlees en bloed broers het my vervolg en verlaat, maar my broers en susters in Christus het my gehelp,” sê Farah. “In my lyding het ek besef dat daar broers en susters is wat vir my gebid het, vir my omgee het en my gehelp het. Dit het my geloof versterk.

Dankie vir alles wat julle doen. Dit is julle gebede wat my onderhou. Ek sal nooit in my lewe julle ondersteuning, wat selfs tot vandag toe voortduur, vergeet nie. Mag God almal seën wat vervolgde gelowiges soos ek bedien!”

Farah en sy mede-Christene wat vervolging ervaar in die Horing van Afrika het steeds ons voorbidding en ondersteuning nodig. Bid asseblief dat God Farah met sy vrou sal herenig. En dankie dat jy help om jou Somaliese broers en suster in Christus te versterk!

*Verteenwoordigende foto gebruik vir sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek