Skip to content

Jy staan saam met die armes en behoeftiges in Indië

Raju* en Seema*, ʼn paartjie van Indië, was vir drie jaar haweloos. Hulle is as nutteloos beskou, deur die samelewing verwerp en geforseer om op straat te bly en te bedel vir ʼn lewe. Alles net omdat hulle blind is.

Maar toe, een reënerige nag, het hul lewens verander toe hulle pastoor Suman* en sy vrou, Sarah*, ontmoet het. Die pastoor en sy vrou is met medelye gevul vir die blinde paartjie, en het hulle met ʼn kombers gehelp. Maar dit was nie al nie. ʼn Paar dae later het die pastoor die paartjie saam met hom huistoe geneem, en hulle het saam met sy familie gebly totdat hy ʼn klein plekkie vir hulle kon huur.

Tydens die proses om vir hulle ʼn huurplekkie te voorsien, en daarvoor uit sy eie sak te betaal, het pastoor Suman die Evangelie met Raju en Seema gedeel, en hulle het Christus aanvaar.

“Ons was verstom om te sien hoe ʼn [totale vreemdeling] so goedhartig teenoor ons kon wees. Toe het hy ons van Jesus vertel, en ons het gevoel dat ons die waarheid gevind het,” vertel Raju.

Vandag is daar 12 behoeftige mense net soos Raju en Seema wat in ʼn gehuurde huis woon – agt van wie Jesus aangeneem het! Soos Raju sê, “Ons is dankbaar teenoor God. Ons leef hier saam soos ʼn groot, liefdevolle familie.”

Maar vanweë hul nuutgevonde geloof in Christus sal hierdie gelowiges nooit weer welkom wees in die samelewing nie. So, met jou hulp het Geopende Deure se vennote ingetree om bystand te voorsien.

Dankie dat jy help om hierdie baken van hoop te bou vir die arm en behoeftiges in Indië.

Jy het gehelp om hierdie spesiale groep te voorsien van broodnodige komberse, muskietnette en kos.

En om die groeiende huishouding te akkommodeer was Geopende Deure-vennote in staat om ʼn groter tuiste vir die blindes te bekom, tesame met ʼn masjien wat die armes in pastoor Suman se sorg help om ʼn bestaan te voer deur deurmatjies te maak om te verkoop.

“Hierdie besigheid doen baie goed,” vertel pastoor Suman.

Maar om dié huis te onderhou is nie sonder risiko’s nie. Christene in Indië word dikwels daarvan beskuldig dat hulle probeer om arm mense te bekeer deur na hul behoeftes om te sien, en dit plaas pastoor Suman en sy vrou in gevaar.

Nietemin, pastoor Suman is vasberade om “vir mense hoop en ʼn geleentheid te gee om met waardigheid te lewe… ek is bly dat Geopende Deure se vennote ons help om hierdie visie te volbring.”

Dankie dat jy help om hierdie baken van hoop te bou vir die armes en behoeftiges in Indië. Mag God jou seën vir jou bystand van ons broers en susters in Christus.

*Name verander vir sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek