Ranglysposisie | 45 | |
2021 ranglysposisie | 44 | |
Streek | Afrika | |
Bevolking | 27 912 000 | |
Christelike bevolking | 17 032 000 | |
Meederheidsgeloof | Christenskap |
45Kameroen
In Kameroen is diegene wat vanaf Islam tot die Christendom bekeer, nie vry om hul geloof uit te druk of te deel nie. Hierdeur kan hulle die vyandigheid van familie en die plaaslike gemeenskap op die hals haal, en dit is selfs riskant om ʼn Bybel te besit. Intussen het die invloed van Islamitiese militante, veral in die noorde, die aktiwiteite van baie kerke belemmer. Veiligheidsmaatreëls het die kerklewe ook aansienlik beperk.
Die voortslepende Engelstalige krisis – ʼn burgeroorlog wat sedert 2017 gevoer word – het leiers wat hulle teen geweld uitspreek ʼn teiken gemaak vir separatistiese groepe en die regering. Sommige rebellegroepe se leiers dwing ook kerke om vir hul beskerming belasting te betaal. Terwyl Kameroen amptelik ʼn sekulêre land is, is daar oorwegende Moslemgebiede waar Islamitiese ekstremisme aanhou groei. ʼn Doeltreffende regering ontbreek in Kameroen en dra by tot die kwesbaarheid waaraan vervolgde Christene blootgestel word.
Intussen oefen die regering druk op Christene uit en skep dit ʼn onveilige omgewing vir Christen-leiers om die skending van menseregte en korrupsie in Kameroen aan te spreek.
Ontmoet ʼn kerkleraar
“Ons het kerkdienste gestaak, aangesien Boko Haram-terroriste die lewe ondraaglik maak. Met hulle verskyning word mense doodgemaak en ons het dus besluit om kerkdienste op ʼn ander plek te hou. Bid asseblief vir ons. Ons wil vanuit ons eie kerk kan aanbid. Bid asseblief ook vir die mense wat uit hierdie streek vlug.”
ʼn Kerkleier in Kameroen.
Bid asseblief
- Dat die regering en veiligheidsmagte in Kameroen geroer en toegerus sal word om die land se groeiende onveiligheidsprobleme aan te spreek.
- Dat die Heilige Gees vertroosting en hoop sal uitstort in diegene wat erg deur aanvalle getraumatiseer word.
- Dat kerkleiers en Geopende Deure se plaaslike vennote versterk sal word namate hulle diegene bedien wat deur vervolging geraak word.
Hoe ondersteun Geopende Deure ons familie in Kameroen?
Geopende Deure werk deur plaaslike vennote om vervolgde Christene in Kameroen te versterk deur noodlenigingshulp, traumasorg, ekonomiese bemagtigingsprojekte en geestelike sorg vir nuwe gelowiges te verskaf.