Geweld teenoor Christene in sub-Sahara Afrika het nuwe hoogtes bereik
Die 2024 Wêreldwaarnemingslys fokus veral op die lot van Christene in sub-Sahara Afrika, met die geweld teen hulle wat kommerwekkende nuwe vlakke bereik soos wat gewelddadige Islamitiese militante die streek destabiliseer. Dit is die ergste in Nigerië, waar militante van Fulani, Boko Haram, Islamitiese Staat Wes-Afrika Provinsie (ISWAP) en ander strooptogte op Christen-gemeenskappe uitvoer waartydens mense doodgemaak, vermink, verkrag en ontvoer word vir lospryse of seksuele slawerny.
Invloed van radikale Islamitiese elemente en outokratiese regimes
Radikale Islamitiese elemente wat onstabiele politieke toestande uitbuit, is ʼn algemene gesig regoor die Afrika-kontinent. Regerings- en veiligheidsgebreke maak die deur oop vir die jihadistiese aktiwiteite wat byvoorbeeld in Burkina Faso, Mali, Mosambiek, Nigerië en Somalië gesien word.
Die Wagner-groep val Mali binne
Toe die Franse troepe in 2022 uit Mali wegbeweeg het, het die Wagner-groep in hul basisse ingetrek. Hulle invloed het die burgerlike ruimte vir Christene aansienlik gesmoor. Dit het gevaarlik geword om uitsprake teen regeringsonregte of die Wagner-groep se brutale optrede te maak.
Styging in geweld teenoor Christene in Indië
Daar was in die WWL 2024-rapporteringstydperk ʼn aansienlike styging in die aantal Christene wat in Indië doodgemaak is en die aantal kerke, Christen-skole en huise wat aangeval is. Die geweld het daartoe gelei dat 160 Christene doodgemaak is en meer as 62 000 Indiese Christene gedwing is om hul huise te verlaat.
Toename in kerksluitings en -aanvalle in China, Indië en verskeie ander lande
China en Indië was die grootste oortreders wat kerksluitings en -aanvalle betref. Syfers wys dat ʼn beraamde 10 000 kerke in China gesluit en 2 228 in Indië aangeval is. Hierdie twee lande vorm saam amper 83% van al die sluitings- en aanval-insidente op kerke in alle lande op die 2024-lys. Kerkaanvalle in Angola, Burkina Faso, Ethiopië, Nicaragua, Nigerië, Niger, Rwanda en Soedan was ook besonder hoog.
Skerp styging in vervolging in Nicaragua
Kommunistiese diktatorskappe in Latyns-Amerika is toenemend vyandig teenoor die Kerk. Nicaragua is geen uitsondering nie, en dié land het vanjaar 20 plekke hoër op die lys gespring. Daniel Ortega se regering raak al meer openlik in hul onderdrukking van godsdiensvryheid.
Wêreldwaarnemingslys Gebedsflitse
Die Wêreldwaarnemingslys Gebedsflitse fokus op die verskillende lande op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys. Die weeklikse e-pos gee ʼn kort oorsig oor ʼn land en ʼn pdf met relevante gebedsversoeke vir die land. Gebruik dit om jou te help bid of gebruik dit in ʼn PowerPoint in eredienste, aankondigings of ander aanbiedings. Indien jy hierdie weeklikse e-posse wil ontvang, voltooi asseblief die vorm hieronder.