Skip to content

Jongste geweld verhoog die risiko vir Christene selfs nog meer | Soedan

Oor die afgelope paar weke is Soedan weereens in geweld gedompel. Die Verenigde Nasies het onlangs beraam dat meer as 100 000 mense uit die land gevlug het om weg te kom van die gevegte, en ʼn addisionele 334 000 mense is intern ontwortel.

Die gevegte tussen die twee gewapende magte – die Nasionale Weermag en die Rapid Support Forces (RSF) – kan ernstige implikasies inhou vir Christene in Soedan, nie net in dié land nie, maar ook elders in die streek.

Bid dat die Here wysheid aan die politieke en militêre leiers van Soedan sal gee sodat hulle tot hul sinne sal kom en die oorlog sal staak.

 

Etnies-godsdienstige geweld duur voort | Indië

ʼn Maand sedert die geweld in Manipur uitgebreek het tussen die Kuki-stam en die Meitei-gemeenskap, lyk dit of daar geen keer aan die geweld tussen dié twee groepe en geen verligting vir die slagoffers van geweld is nie.

Die geweld spruit uit die konflik tussen verskeie etniese groepe wat in Manipur bly. Die etniese groep met die grootste bevolking, die Meitei, is meestal Hindoes. Een van die ander groepe, die Kuki-stam, is grootliks Christene. Hulle grootste meningsverskille is oor wie vir voorkeurbehandeling van die regering kwalifiseer, wat gewoonlik vir minder welvarende groepe soos die Kuki gereserveer word. Die Kuki het op 3 Mei 2023 ʼn saamtrek gehou om teen veranderinge aan hierdie beleide te protesteer – en hulle is gewelddadig aangeval.

Bid dat God sal ingryp in die harte en gedagtes van die amptenare, sodat hulle die waarheid sal soek en geregtigheid sal bring.

 

Christene aangesê om ʼn boete te betaal om vervolging te stop | Mexiko

Minstens tien evangeliese gesinne in die gemeenskap van San Isidro*, Mexiko, is sedert Januarie 2023 toegang tot drinkwater en elektrisiteit geweier, en talle mense moes die gemeenskap verlaat weens fisiese geweld, die plundering van hul gewasse en dreigemente om hul kinders van skoolopleiding te ontneem. Bykomend tot hierdie situasie, is daar ook ʼn skeiding tussen sommige van die broers en hul pastore, wat regsadvies onttrek het.

Op 25 Mei het vyf gesinne, die enigstes wat gekies het om ondersteuning by Geopende Deure te ontvang, ʼn vergadering bygewoon waar hulle ingelig is dat hulle binne die volgende twee maande ʼn boete van $1 389USD (ongeveer R27 247) per gesin moet betaal om die vervolging te stop en uitsetting uit hul gemeenskap te vermy.

Geopende Deure is van voorneme om hulle by te staan met die betaling van hierdie boetes, sowel as om ʼn inisiatief te ontwikkel wat hulle sal help om te oorleef, aangesien daar beslag gelê is op hul grond en gewasse.

Bid dat die gemeenskapsowerhede hul woord sal hou om vervolging te staak nadat die boetes betaal is, en om die broers toe te laat om in hul gemeenskap te bly.

 

*Naam van die gemeenskap weens sekuriteitsredes verander.

Back To Top
Soek