Skip to content

Jou ondersteuning bemoedig geheime gelowiges in Suid-Asië

Verbeel jouself dat jy nie vir jou familie of vriende kan vertel dat jy ʼn Christen is nie. Of, dat jy beurte in jou familie moet neem om kerk by te woon, net om aandag te vermy.

In een Suid-Asiatiese Molsemland* is dít die realiteit vir Christene. In hierdie land sal jy nie ʼn enkele kerk vind nie, want Islam is die enigste toelaatbare godsdiens. Gelowiges ontmoet in die geheim en moet elke voorsorgmaatreël tref om enige agterdog te vermy. Hulle praat nie eers in publieke plekke met besoekers wat by hulle kuier nie.

“Dit blyk asof almal mekaar ken,” het Abraham, ʼn buitelandse Christenwerker gesê. “Vreemdelinge en besoekers [wat rondom geheime Christene gesien word] sal vrae by die bure ontlok.”

Blootstelling sal die klein groep verder laat krimp en die Kerk se vermoë om voort te bestaan beskadig.

Alhoewel baie sendingsagentskappe die land verlaat het vanweë die risiko’s, gaan Geopende Deure voort om hierdie Christene te help om te groei in die geloof, deur hulle te voorsien van Standing Strong Through the Storm-opleiding. Dit help hulle om die ware agente van onderdrukking te identifiseer en te leer hoe om op ʼn Bybelse manier op vervolging te reageer.

“Ons besef nou dat [ons vervolgers] net instrumente is wat Satan gebruik, en dat Satan die ware vyand is. Ons moet teen die duiwel bid en hierdie mense liefhê,” het een van die deelnemers na die opleiding gesê.

Jou ondersteuning help hierdie Christene om aan te hou om op Christus te vertrou en getuies vir Hom te wees in hierdie geslote Moslemsamelewing. Bid asseblief vir hulle!

*Vanweë die gevare wat gelowiges in hierdie streek in die gesig staar, kan ons nie die land bekend maak nie, omdat dit die lewens van Christene daar in die gevaar sal stel. Verteenwoordigende foto gebruik.

Back To Top
Soek