Skip to content

Om in ʼn stad met ʼn vinnige pas geloof te vind

Wesley het homself as ʼn Christen beskou, maar het nie geweet wie Jesus was nie. Dit het alles verander toe hy ʼn program bygewoon het wat deur Geopende Deure ondersteun is.

Die gegons van die stadslewe in Kuala Lumpur kan oorweldigend wees. Vir Wesley, ʼn 19-jarige student, is die toringhoë wolkekrabbers en bedrywige skares ʼn skrille kontras met die stil lewe wat hy tydens sy kinderdae in ʼn afgeleë dorpie geken het.

Hy het in ʼn langhuis (’n groot gemeenskaplike dorpshuis) in Sarawak, Oos-Maleisië, grootgeword. Die huis was langs oerwoude en verskeie riviere geleë, wat ver verwyderd van die stedelike gedruis van Kuala Lumpur was. Hy het na dié stad (tuiste van 8,8 miljoen mense) verhuis om universiteit by te woon, wat ʼn groot oorgang vir hierdie jong man was.

Behalwe dat hy weens sy landelike opvoeding in die minderheid is, bevind Wesley homself ook op ʼn ander manier in die minderheid: Hy is ʼn Christen wat in ’n stad woon waar slegs 6,4% van die bevolking Jesus volg. Die meeste inwoners van Kuala Lumpur is Moslems of Boeddhiste, met ’n beduidende minderheid Hindoes. Daar is moskees, wydverspreide Boeddhistiese tempels en massiewe heiligdomme wat aan Hindoe-gode gewy is.

Dit kan ʼn resep vir ʼn ramp wees – ʼn jong Christen wat vir die eerste keer na ʼn vinnig ontwikkelende stad kom, kan maklik van sy geloof afwyk weens die invloede rondom hom.

Maar Wesley se geloof in Jesus het hom voorberei vir die uitdagings van die lewe in ʼn enorme stad, aangesien hy ʼn moeilike pad moes stap om ʼn ware Christen te word.

’n Christelike geboortesertifikaat, maar min begrip

Wesley se tuisdorp bestaan uit mense wat op hul geboortesertifikate as “Christene” identifiseer, maar geen ware begrip van dié geloof het nie. Sendelinge het die Evangelie in die 20ste eeu na die streek gebring, maar dikwels sonder om die nodige dissipelskap te bied sodat mense dit werklik kan begryp of uitleef.

“Ek het as ’n Christen geïdentifiseer,” onthou Wesley, “maar ek het nie die beginsels daarvan ten volle aangeneem of uitgeleef nie.” Die gemeenskap het streng vasgeklou aan tradisionele oortuigings, insluitende eerbied aan diere as goddelike wesens en rituele waarin bome aanbid is, dikwels saam met die Christendom. “Ek het hierdie oortuigings heelhartig gevolg, en werklik in die kultuur geglo. Ek was heeltemal verdiep in die oortuigings en praktyke en het groot betekenis en sin daarin gevind,” sê Wesley.

“Om die waarheid te sê, ek is nooit tydens my kinderjare aan die Bybel blootgestel of daaroor opgevoed nie, en ek het dit nog nooit tevore gelees nie,” sê hy.

Wesley se gebrek aan blootstelling aan die Bybel en kennis van Jesus het hom gelei tot ontmoetings met spirituele praktyke wat algemeen in sy kultuur was. Hy het rituele gesien wat deur ʼn plaaslike toordokter uitgevoer is en sy oom, ’n familielid saam met wie hy grootgeword het, was selfs vatbaar vir geestelike besetenheid.

Tog was Wesley ondanks die oortuigings rondom hom nuuskierig oor die geloof wat op sy geboortesertifikaat aangeteken is. Hy het besluit om kerk toe te gaan en te sien waaroor Christenskap gaan.

Dit het hom op ʼn koers geplaas wat alles sou verander.

“Soos om ʼn elektriese skok te ervaar”

Terwyl Wesley vir graduering voorberei het, het hy kerk toe begin gaan. “As ek terugkyk, besef ek dat God nog altyd by my was,” sê hy. Op 17 het hy ’n diepsinnige ervaring by die kerk gehad. “In daardie diens het ek baie warm gevoel, soos om ʼn elektriese skok te ervaar,” onthou hy. “Ek weet vandag dat ek God se teenwoordigheid gevoel het.”

Dit het hom laat besef hoe min hy verstaan het van die geloof waaraan hy veronderstel was om te behoort. “Ek het nie geweet wie Jesus is, wat die Bybel is of wie God is nie.”

ʼn Lewensveranderende program

Alles het verander toe Wesley aan ʼn program genaamd Ground Zero deelgeneem het, wat deur Geopende Deure se plaaslike vennote georganiseer en bestuur word. Ground Zero bied fundamentele Bybelse onderrig en dissipelskap aan jongmense vir die oorgang van hul hoërskooljare kollege toe.

Dit was die eerste keer dat Wesley werklik die geleentheid gehad het om die Bybel te lees en God se Woord te verstaan. Dit was ook hier waar hy Jesus werklik as sy Verlosser ontmoet het. Hy sê: “Ek het gevoel dat my lewe verander het nadat ek die waarheid oor Hom ontdek het.”

Die opleiding was nie net ’n persoonlike transformasie nie. Dit het hom toegerus om uitdagings te hanteer, en selfs om sterk in sy geloof te staan toe sy eie gesin gesukkel het. Toe sy oom ʼn verskriklike episode van geestelike besetenheid ervaar het, kon Wesley sy ma en oom met vertroue aanraai om nie hulp by die toordokter te soek nie, maar om te bid vir genesing deur Jesus. Hy het besluit om op die vloer langs sy oom se bed te slaap en deur die nag te bid.

Sy oom was drie dae lank histeries voordat Wesley soontoe gegaan het en het daardie nag vir die eerste keer vreedsaam geslaap, terwyl Wesley gebid het. “Ek het op daardie oomblik baie dapper gevoel,” onthou Wesley. “Ek het geglo dat God by my was.” Hierdie oortuiging het na sy hele gesin uitgebrei, en sy pa, wat voorheen sterk teen die Christendom gekant was, het uiteindelik ook begin om Christus te volg.

Hantering van die stad se uitdagings

Nadat Wesley na Kuala Lumpur verhuis het, het hy homself in ’n diverse godsdienstige landskap bevind. Hoewel hy die geleentheid aangryp om by ander te leer, erken hy dat dit noodsaaklik is om onderskeidingsvermoë te hê en sterk in sy geloof te staan. Hy vind krag in die Bybel, gebruik die leringe daarin om sy besluite te lei en weerstaan eksterne druk om sy geloof te verwerp.

“Dit was uiters nuttig om die Bybel te ken,” sê hy. “Ek sou maklik beïnvloed kon word as ek nie die Woord van God geken het voordat ek hierheen gekom het nie.”

Hy het selfs sy geloof met vriende gedeel, geduldig sy oortuigings aan hulle verduidelik en die vreugde en vrede wat hy in Christus vind, gedemonstreer. “Wanneer ek die Bybel lees, sê dit altyd God is by ons en ons moenie bang wees nie,” sê hy. “Ek onthou daardie verse oral waar ek gaan. God sal my nooit verlaat nie!”

’n Voortdurende behoefte en ’n blink toekoms

Wesley se verhaal beklemtoon die noodsaaklikheid van programme soos Ground Zero in Maleisië. Hierdie inisiatiewe aan bied jongmense die gereedskap wat hulle nodig het om hul geloof, die Woord van God, te verstaan, kulturele druk te weerstaan en die Evangelie met ander te deel.

Hy hoop dat Geopende Deure-vennote sal voortgaan om finansiële en gebedsondersteuning te bied. “Ek hoop baie jongmense sal by programme soos hierdie aansluit,” sê hy. “Hul lewens sal ’n drastiese verandering van oud na nuut ondergaan.”

Wesley dien nou in sy kerk, en sy onwrikbare geloof is ʼn getuienis van ʼn veranderde lewe. Sy strewe is eenvoudig – om aan te hou groei in sy geloof, God te dien en ʼn lig vir diegene rondom hom te wees. Hy put krag uit Johannes 15:5: “Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug . . .” Hy sê: “Al wat ek in my lewe wil hê, is om Hom te dien. My droom is om God te dien.”

Hy vra vir voortgesette gebede vir sy studies, sy familie en vir die verspreiding van die Evangelie in Maleisië. “Bid dat my geloof versterk sal word sodat ek enige uitdagings in my lewe met God se hulp kan oorkom, en dat ek altyd op die regte pad na Christus sal wees,” sê hy.

Hy is nie meer ʼn seun van ʼn afgeleë dorpie nie, maar ʼn jongman met diep geloof en ʼn blink toekoms.

Geopende Deure werk deur vennote regoor die wêreld om Bybels en dissipelskap-hulpbronne te verskaf aan vervolgde Christene wat druk en vervolging weens hul geloof ervaar. ’n Geskenk van R180 kan vandag help om God se Woord en die gereedskap om dit te verstaan, aan ʼn vervolgde gelowige te voorsien.

Back To Top
No results found...