Skip to content

In die loopgraaf

Hadija* is ʼn gesondheidsorgwerker in haar dorpie in Turkmenistan. Haar man is ʼn toegewyde Moslem wat haar forseer om te vas en vyf keer ʼn dag te bid gedurende Ramadan. Hy is onbewus daarvan dat Hadija tot Christenskap bekeer het.

Sy het geleer dat sy in Jesus se naam kon bid en dat God haar sal hoor en antwoord. “Dit was so ʼn ongelooflike openbaring,” vertel Hadija. “Dat my grote God en Skepper met my kon praat! Dit het my so diep geraak.”

Haar man het haar al eenkeer amper uitgevang terwyl sy die Nuwe Testament gelees het. Sy het gemaak asof sy Moslemgebede opsê, maar toe hy weer loop, het sy in Jesus se naam gebid.

“Ek bid elke dag in die naam van Jesus. Ek hou so baie daarvan om te bid, en ek doen dit enige tyd en enige plek. Dit maak my hart heel en vul my met liefde vir ander mense.”

Bid vir Hadija en baie ander geheime Christene soos sy – veral gedurende Ramadan vanaf 15 Mei tot 14 Junie. Bid vir hul geliefdes om ook Christus aan te neem. Dankie!

*Naam verander en verteenwoordigende foto gebruik vir sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek