Skip to content

Hoop kan nie vernietig word nie

Pastoor Jeremiah se dorp in Nigerië (#7 op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys) is in April 2020 in ʼn vlaag van geweld teenoor Christene in die Middelgordel van Nigerië aangeval. In hierdie streek jaag Fulani-veewagters wat terroriste is, hul beeste deur gebiede waar Christene al vir geslagte lank woon. Wanneer hierdie radikales aanval, doen hulle dit met brutaliteit en is dit daarop gemik om die Christen-teenwoordigheid in die streek uit te wis.

“Ons het die regering gesmeek om in te gryp, maar hulle het niks gedoen nie,” sê Pastoor Jeremiah.

Toe die Fulani-terroriste sy dorp aangeval het, het hulle almal in sig geskiet en die huise met vlammende fakkels aan die brand gesteek. Almal het gevlug, want dit was onmoontlik om die dorp teen die swaar gewapende mans te beskerm. Ongelukkig het sommige Christene nie daarin geslaag om lewend weg te kom nie.

Die Fulani-terroriste het van huis tot huis gegaan en alles aan die brand gesteek. Hulle het ook ʼn stapel plastiekstoele in die kerk aan die brand gesteek, met die hoop dat die vuur die dak aan die brand sou steek. God het die kerk egter beskerm.

 “Toe ons die volgende oggend terugkom, was al wat ons gesien het vlamme en rook wat vanaf die huise en gestoorde graan afgekom,” sê Pastoor Jeremiah.

Pastoor Jeremiah kon hoop verloor het terwyl die aanvalle in die Middelgordel van Nigerië voortduur. Maar hy het gekies om ondanks die aanval ʼn herder vir sy gemeente te wees wat hoop skep.

“Selfs as ons doodgaan, is ons in God se hande,” sê hy.

Geopende Deure was danksy jou in staat om Pastoor Jeremiah en sy gemeente met noodsaaklike ondersteuning by te staan om kos, medisyne en boumateriaal te koop om hul huise te herbou. Die aanbied van geestelike ondersteuning en traumasorg het gehelp om hulle in hul geloof te bemoedig en die Kerk te versterk.

“As julle nie gekom het nie, sou ons nog meer gely het,” sê Pastoor Jeremiah. “Geopende Deure, ons sê dankie namens ons mense.”

Prys die Here vir die veerkragtigheid van gelowiges soos Pastoor Jeremiah! Bid vir volgehoue wysheid, moed en krag vir Pastoor Jeremiah en talle ander kerkleiers in Nigerië terwyl hulle as herders vir ons geloofsfamilie optree en hulle na vergifnis en hoop lei.

Ons prys die Here vir jóú, wat aanhou om by ons geloofsfamilie te staan ondanks die probleme wat jy in hierdie tyd in die gesig mag staar. Dankie dat jy deur jou gebede en ondersteuning aanhou om hoop lewendig te hou wanneer vervolging plaasvind.

 Jy help om ons geloofsfamilie in hul tye van nood aan God se voorsiening te herinner. Hou asseblief aan om vir hulle te bid en indien jy vandag in staat is om te gee, oorweeg dit asseblief biddend sodat ons kan aanhou om hoop lewendig te hou en dat hulle ondanks vervolging ʼn baken van hoop vir mekaar en ʼn getuie vir Christus kan wees.

 

Back To Top
Soek