Skip to content

Jy help gelowiges soos Vikas om sterk te staan in Indië

Toe Pastoor Vikas* 18-jaar oud was, het hy siek geword. Hy het allerhande dinge probeer om homself gesond te maak, maar niks het gewerk nie. Op ʼn dag het hy ʼn Christenman ontmoet wat hom uitgenooi het na ʼn kerkdiens toe, en uit wanhoop het hy saamgegaan.

Tydens die diens het die lirieke van ʼn lied wat hulle gesing het by hom weerklink. “Dit was asof die skille van my oë afgeval het,” onthou hy. “Ek het begin om ʼn afkeer te hê vir my ou geloof en al die afgode.” Vikas het toe sy lewe aan Christus gewy.

Twee jaar nadat hy ʼn Christen geword het, het hy teenkanting van sy gemeenskap begin ervaar. “Ek het baie dreigemente gekry, maar ek het nooit ophou glo nie. My geloof het sterk geword,” sê Vikas. Na ʼn jaar van opleiding waar hy meer oor God geleer het, het hy eindelik ʼn pastoor geword.

Ongelukkig het die vervolging gedurende 2015 meer ernstig begin word. Drie polisiebeamptes het eendag ʼn kerkdiens onderbreek en gesê, “Julle bekeer mense na Christenskap. Julle praat teen ons gode en godinne.” Maar baie van die kerkgangers het getuig dat hulle Christene geword het toe hulle genesing ontvang het nadat hulle saam met Vikas tot die ware God gebid het.

Ongelukkig, na hierdie insident, het joernaliste berigte geskryf waarin Vikas daarvan beskuldig is dat hy mense kul om na Christenskap te bekeer.

Dankie dat jy help om soveel vervolgde gelowiges te laat besef dat hulle nie alleen is nie.

In 2018 het die polisie weereens ʼn klopjag op sy huis uitgevoer terwyl hy ʼn nag van gebed gelei het. Dié keer het hulle hom in hegtenis geneem en in die tronk gegooi. Gelukkig het van die lede van Vikas se kerk kontak gemaak met plaaslike vennote van Geopende Deure, wat hom teen die volgende oggend op borgtog vrygelaat kon kry.

“As julle nie daar was vir my nie, sou hulle waarskynlik ʼn saak teen my gemaak het. Niemand sou daar gewees het om vir my te veg nie,” sê Vikas. Vikas is daardie dag herinner dat hy nie alleen is nie – te danke aan ruimhartige vriende soos jy.

Kort nadat hy in die tronk was, is hy uitgenooi om opleiding wat deur Geopende Deure se plaaslike vennote aangebied word by te woon, om hom te help versterk in die aangesig van vervolging. Hy sê, “Toe ek die opleiding bygewoon het, het ek besef dat daar baie mense is wat langs my staan. Dankie vir julle gebede vir my.”

Vikas deel ook alles wat hy by die opleiding geleer het met ander. “Ek bemoedig nou ander mense, want ek weet dat hulle nie alleen is nie. Hulle word ook ondersteun deur julle gebede. Ek probeer hulle help om terugslae te voorkom.”

Dankie dat jy ons broers en susters in Indië versterk en toerus sodat hulle kan sterk staan namate Hindoe-ekstremiste daarna streef om Indië ʼn Hindoe-staat te maak.

*Naam verander vir sekuriteitredes.

Back To Top
Soek