Skip to content

Kamala is vasbeslote om sterk te staan in haar geloof

Jy sien dalk nie altyd die impak van jou gebede en ondersteuning nie, maar net soos ʼn springende klip wat oor die water gegooi word, het jou gebede en ondersteuning ʼn verreikende impak op toekomstige generasies.

Ons sien dit in Kamala* (26) se lewe. As ʼn gelowige in Nepal, het sy die pyn van vervolging gevoel, maar ook die seën daarvan om deel te wees van die Liggaam van Christus.

Kamala deel: “Toe my Hindoe-man uitgevind het dat ek na my Christelike geloof teruggekeer het, het hy my geestelik en fisies vervolg. My skoonfamilie het my ook voortdurend geestelik gemartel en verbaal misbruik.”

Die vervolging het meegebring dat sy na haar ouerhuis moes terugtrek. Kamala huil terwyl sy deel: “Ongelukkig het my man my voor my ouers kom aanrand. Ek het besluit om hom te verlaat. Hy is alreeds met ʼn ander vrou getroud, en hy sorg nie vir my en my kind nie. Hy sê sy is nie meer sy dogter nie.”

Ongeag alles wat sy deurgemaak het, sê sy: “God het my teruggebring en ek is vasbeslote om sterk in my geloof te bly.”

Kamala, wat ʼn gebedsvegter is, deel: “Ek het antwoorde op my gebede ontvang wat my geloof en vertroue in Hom nog meer versterk het. Die beste deel van gebed is dat dit ons laat voel dat ons nooit alleen is nie. Toe ek in die proses van egskeiding was, was daar baie mense wat my met hul gebede ondersteun het.

“My pastore en al die gelowiges het voortdurend vir my gebid. Wanneer ons in Christus is, is daar altyd iemand wat vir ons bid en ons krag gee. Ek voel liefde van God en Sy mense.”

As ʼn enkelouer het sy gesukkel om ʼn bestaan te maak om vir haarself en haar dogter te voorsien. Geopende Deure het haar toe gehelp en ondersteuning gebied om ʼn kleremaak-onderneming te begin – danksy ons vennote se donasies.

Dit alleen het ʼn rimpeleffek in haar gemeenskap gehad. “Sommige vroue het na my winkel gekom om hulle klere te laat stik. Hulle deel soms hul hartseer en probleme met my. Ek troos hulle dan en deel my ervarings van die Here.”

Dit het ook gehelp om haar en haar dogter se lewens te verbeter. “Ek kan voedsel vir my dogter voorsien en my huur betaal. Danksy dié ondersteuning bly ek en my dogter saam in ʼn huis. Ek is ontsettend dankbaar vir julle ondersteuning.

“Ek wil almal bedank wat my gehelp het. Julle ondersteuning het my aangemoedig om dieselfde te doen, en ek glo dat ek ook mettertyd iemand anders sal kan help. Ek het ʼn plan om my kleremaakwinkel uit te brei en dan iemand wat in nood is te help. God seën julle. Danksy julle gebede en ondersteuning het my slegte dae in ʼn seëning verander.”

Dankie vir die impak wat jy deur jou gebede en ondersteuning in die lewens van ons vervolgde familie maak. Dit versprei die Evangelie en skep ʼn rimpeleffek van verandering in so baie lewens.

 Jy kan help om aan die behoeftes van gelowiges soos Kamala te voldoen, wat vervolging en diskriminasie weens hul geloof in die gesig staar. Jou geskenk kan help om aan hul dringendste behoeftes te voldoen, soos voedselhulp, traumasorg en ondersteuning om hul eie ondernemings te begin. So indien jy in staat is om te gee, oorweeg dit asseblief biddend om ons vervolgde familie te midde van vervolging te help.

 

*Naam verander en verteenwoordigede foto gebruik vir sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek