Skip to content

Jou ondersteuning bemoedig Praveen en Shanti

Vir jare het Shanti* (42) van Indië fisieke ongesteldheid verduur. Haar man Praveen* (45) het alles probeer om haar gesond te maak maar niks het gewerk nie. “Ek het hospitale, towenaars en priesters in tempels besoek. Ek het elke Hindoe-fees gevier om nie die gode kwaad te maak nie, maar daar was geen verligting vir my vrou nie. Inteendeel, ʼn groot bedrag geld is gemors,” deel Praveen.

In ʼn poging om ʼn beter bestaan te maak en ʼn kuur vir sy vrou te vind, het Praveen sy huis verkoop en na ʼn ander staat verhuis. Na ʼn groot soektog het hulle ʼn plek te huur gekry bokant ʼn kerk. Praveen het die eienaar uitgevra oor die lofprysing en liedere wat hy daagliks gehoor het. Die eienaar was toevallig ook die pastoor van die kerk en het meer oor Christus met hom gedeel. Praveen het hom dadelik vertel van sy uitdagings en die pastoor gevra om vir sy vrou en familie te bid.

ʼn Paar dae later het die pastoor en sy vrou gebid vir Shanti se bevryding– en sy is dadelik genees. Na dié bevryding en genesing, wou Shanti weet wie hierdie God is. Namate sy meer oor God, en die Woord van God t by die pastoor geleer het, het sy geglo. En binne maande is Shanti en Praveen gedoop.

Toe hul families uitvind van hul bekering, was hulle woedend en het hulle die gesin gewaarsku om Christus te versaak. Toe hulle dit nie doen nie, het Praveen se broers die stuk grond wat hy geërf het by hom gevat en ʼn huis vir hulself daar gebou. Praveen het gehoop om hierdie grond te verkoop en die geld te gebruik om die skuld te vereffen wat hy aangegaan het toe hy Shanti probeer genees het.

Toe hulle nie die geld van die erfgrond kon kry nie, het Praveen ‘n winkel oopgemaak. Vanweë die pandemie het die winkel ongelukkig nie wins gemaak nie en kon hulle nie die kruideniersware op die rakke aanvul nie. Hulle seuns het werk gekry as dagarbeiders, maar hul inkomste was nie genoeg om te voorsien in die familie se daaglikse behoeftes nie – en na die pandemie se grendeltyd, was dit moeilik om sulke werk te kry.

“Ons het geen kliente gehad nie en ons kon nie ʼn behoorlike ete bekostig nie. Ter selfde tyd kon ons nie ons maandelikse huur betaal nie. Die eienaar, wat ʼn pastoor is, het ons situasie genadiglik verstaan, maar was ook bekommerd oor ons hopelose situasie,” sê Praveen.

In hul tyd van nood het God hul gebede beantwoord deur jou. “In ʼn antwoord op ons gebede, het julle organisasie tot ons redding gekom en voorrade voorsien om die winkel mee aan te vul. Nou gaan dit goed met die winkel en is dit ʼn standvastige inkomste vir ons familie. Ons kan ons huis se huur betaal sonder om te sukkel, en in ons basiese behoeftes voorsien,” vertel Praveen

“Ek is so dankbaar vir hierdie hulp. Ek bid dat God julle almal ryklik sal seën, net soos ek en my familie geseën is. Ek glo dat baie mense deur julle geseën sal word. My diepste en opregste waardering vir elkeen van julle,” sê Shanti.

Regdeur die onseker tye het God se Woord ons herinner, Vertrou op my, ek sal jou verlos en jou voorsiener wees.En God is ons voorsiener. Ons het vandag kliënte wat kom inkopies doen en ons kan die kruideniersware aanvul as gevolg van julle hulp op die regte tyd,sê Praveen.

Dankie vir jou voortdurende gebede en ondersteuning vir gelowiges soos Praveen en Shanti! Jou liefde en ondersteuning is ʼn herinnering dat hulle nooit alleen of vergete is nie. Indien jy vandag kan bydra, vra asseblief die Here biddend hoe jy saam met ons vervolgde familie in Christus kan staan om Hom aan te hou dien te midde van toenemende vyandigheid.

*Name verander vir sekuriteitsredes.

Geskenke word aangewend waar dit die meeste benodig word regoor die wêreld – dankie!

Back To Top
Soek