Skip to content

Jou gebede en ondersteuning is ʼn reddingsboei vir Christene

Geopende Deure Suider-Afrika het op 10 Mei sy 50ste herdenking gevier. Ons staan in verwondering oor God se genade en voorsiening. Sonder Hom sou ons nie vir so lank kon help om vervolgde Christene te versterk nie. Ons staan in verwondering oor hoe Sy hand so veel jare oor ons as ʼn organisasie was. Ook vir julle, ons vennote, wat oor die jare by ons gestaan het.

Ons wil ook almal bedank wat ons fisiese en aanlyn byeenkoms bygewoon het. Dit was so ʼn seën om hierdie mylpaal saam met jou te vier. Jou goeie wense en teenwoordigheid het ons weereens daaraan herinner dat ons almal deel van die Liggaam van Christus is en dat: “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.” (1 Korintiërs 12:26).

Jou volgehoue gebede en ondersteuning is noodsaaklik vir ons vervolgde broers en susters. Sien wat Helen, ʼn vervolgde Christen, oor jou gebede sê. Kyk na die video hieronder.

Wanneer ʼn mens na Helen se video kyk, word jy herinner aan die baie vervolgde Christene soos Helen wat ons die afgelope 50 jaar danksy jou hulp kon bystaan. En ons kan met selfvertroue sê dat God goed is, selfs in die moeilike tye.

Net verlede jaar, toe die wêreld deur Covid-19 getref is, het God ons weereens deur julle, ons vennote, aan Sy getrouheid herinner. Toe die behoeftes van ons vervolgde familie weens Covid-19 toegeneem het, was jy daar om ʼn helpende hand uit te steek, ondanks die feit dat jy ook deur die pandemie beïnvloed is.

In lande soos Indië, waar Christene laaste in die ry was om broodnodige noodleniging te ontvang, het jy ʼn reddingsboei van hoop uitgesteek deur jou gebede en ondersteuning.

ʼn Geopende Deure-vennoot in Indië, Rajesh*, deel: “Vervolgde Christene was onseker wat hulle die volgende dag sou eet. Toe ons na hulle uitgereik het met kospakkies, het baie van hulle begin huil en gesê dit is die antwoord op hul gebede. Hulle het die Here bedank en gesê: ‘Julle is in hierdie belangrike tyd deur die Here gestuur, en ons geloof is versterk omdat God ons gebede beantwoord het.’”

ʼn Weduwee van Ethiopië, Abebu, sê oor jou gebede en ondersteuning: “Aan my familie wat my ondersteun het… wat namens ons tot God gebid het: Sonder julle sou ons nie hier gewees het nie en sou ons niks gehad het nie. Mag God almal seën wat oor ons bekommerd is en ons bystaan.”

Nog ʼn gelowige van die Suid-Filippyne, Linda*, sê: “Ek is so dankbaar. Ek het geen rys by die huis nie omdat my kind niks verdien nie, maar ek het vandag hulp ontvang. God het gister my gebed verhoor! Ek dank God vir almal.”

Hierdie is slegs ʼn paar van die gelowiges op wie se lewens jy ʼn impak het met jou liefde en ondersteuning.

Dankie vir jou volgehoue gebede en ondersteuning vir ons vervolgde familie in Christus! Jy gee hoop aan diegene in die Liggaam van Christus wat in die voorste linies van ons geloof veg. Indien jy vandag in staat is om te gee, vra die Here asseblief biddend hoe jy by hulle kan staan terwyl die pandemie aanhou om hulle te midde van daaglikse vervolging nog meer te beïnvloed.

*Name weens sekuriteitsredes verander.

Geskenke word aangewend waar dit die meeste benodig word regoor die wêreld – dankie!

Back To Top
Soek