Skip to content

As deel van Geopende Deure se Teenwoordigheidsbediening, het ek onlangs ʼn land besoek met ʼn ryk en antieke geskiedenis. Weens die Covid-19-pandemie, was dit Geopende Deure se eerste besoek in twee jaar. Ek wil graag met julle ʼn paar dinge oor my ervaring omdat dit my eerste bedieningsbesoek saam met die organisasie was.

As mens verby die toeriste attraksies kyk; grafte, piramiedes, grotte, goue afgode en kunswerke (alles wat op die dood en lewe na die dood gegrond is), neem die aanskouing van die Nyl, die kilometers se woestynsand, asook die kamele en donkiekarre jou terug die ryk Bybelse geskiedenis van Egipte. Dis moeilik om nie die baba-Moses in jou geestesoog tussen die riete te sien, of die slawe arbeid en swaarkry wat die Israeliete moes verduur nie – insluitend die 40 jaar wat hulle in die woestyn rondgeswerf het.  En dat Jesus self as baba en kleuter in hierdie land as plek van veiligheid was.

Terwyl ek en van my kollegas in vryheid op die balkon van ʼn moderne hotel kon sit, uitkyk oor Kaïro en bid vir krag vir ons geloofsfamilie om die sout en lig te wees te midde van hul omstandighede, veral diegene buite die stad – het baie van hulle hul vryhede verloor deur die jare.

 

Wanneer jy eers as ʼn Christen identifiseer, is dit moeilik om werk te kry in Egipte. Christelike besighede word geteiken om te verseker dat hulle nie floreer nie. In skole word Christen-kinders met opset benadeel. Hulle word agter in klasse (van 70 leerlinge) geplaas waar hulle nie kan hoor nie, wat beteken dat hulle nie kan leer nie. Hulle het dikwels ook nie vriende nie of word uitgekryt weens hul geloof.

Ons besoek aan die martelaarsmuseum, waar ʼn selfmoordbomaanvaller ʼn bom laat afgaan het tydens ʼn gebedsaand vir vroue by die St. Peter en St. Mark Kerk in 2016, beklemtoon die realiteit van die stryd tussen die Koninkryk van God en die teenwoordigheid van die bose magte, asook die prys  wat dit verg om die dapper besluit te neem om Jesus te volg in ʼn vyandige omgewing.

Tog, te midde van al die swaarkry, lewe die Kerk! Met die besoek aan plaaslike kerkdienste, was die beroep op plaaslike Christene baie duidelik; om die Evangelie te verkondig in hul huise, met familie, in vriendskappe en werkskringe. Ons is almal uitgedaag om uit ons gemaksones te beweeg en glo my as ek se dat ons sin baie gemakliker is as die van ons broers en susters wat daar woon.

Wat op die ou einde vir my die meeste uitgestaan het, is hoe belangrik dit vir ons in die vrye Kerk is om aan te hou om ʼn stem te wees en in gebed te tree vir ons mede-volgelinge van Jesus, en daarmee saam hulle op ʼn praktiese manier te versterk. Deur die voorsiening van leier- en dissipelskapsopleiding, sosio-ekonoiese ontswikkelingsopleiding, toegang tot hulpbronne ens., kan hulle voortgaan om die lig van Christus te wees.

As ek terugkyk op my besoek, is ek bly dat ek kan deel wees van hierdie ongelooflike bediening in ‘n tyd soos die! Dankie dat jy saam met ons ʼn vennoot in die bediening was deur die jaar, en vir alles wat jy vir ons vervolgde familie doen. Ek sien uit om in die nuwe jaar voortdurend ʼn pad saam met jou te stap tot versterking van ons familie in geloof.

Terwyl ons die geboorte van Christus vier vanaand en more, laat ons nadink oor alles wat ons Almagtige Here gedoen het en aanhou doen in Egipte, Suid-Afrika en regoor die wêreld.

Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg – Jesaja 9:5-6 NIV

Peace
Lynette
N.S Indien jy nog nie geleentheid gehad het om by te dra tot ons Steek Hoop Aan-veldtog nie, gee asseblief hieronder.

  • Hidden
  • Jy sal na PayFast se webwerf verwys word om ʼn maklike en veilige donasie aan Geopende Deure te maak wanneer jy die “Skenk Nou”-knoppie klik
  • Hidden
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Back To Top
Soek