Skip to content
Mimi vier Kersfees saam met haar hoenders

Kersfees is om die draai, maar vir kinders in Irak is dit dikwels ʼn droewige tyd met nie veel om te vier nie. Gelowiges soos Mimi (12) en haar ma, Nadia, uit die landelike gebied van Shekhan, het egter nuwe hoop vir ’n toekoms in hulle land.

Mimi sê sy hou baie van Kersfees: “Ons speel liedjies en tooi die huis op met Kersversierings.”

 “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ʼn welbehae!” Hierdie woorde van ʼn bekende Kerslied is heel gepas vir die vreedsame stemming op hulle plaas.

 Mimi was skaars vier jaar oud toe vervolging hulle gesin uit hul huis verdryf het. Hulle moes in die middle van die nag vlug en kon niks met hulle saamneem toe ISIS-ekstremiste hulle dorpie aangeval het nie. Toe ISIS in 2017 verslaan is, het die gesin na die Nineve-vlaktes teruggekeer, maar die omstandighede was moeilik en Mimi se ouers het dit nie breed gehad nie.

Met die ondersteuning van Geopende Deure se plaaslike vennote het die gesin nou wel ’n toekoms in Irak. Mimi se gesin het ’n mikrolening ontvang, wat hulle gebruik het om met skape en ander diere te begin boer.

Sy is baie lief vir haar hoenders en loer graag by die hoenderhok in om eiers te gaan haal en haar gunstelinghen, Loulou, te groet. “Sy is my beste maat; ek hou baie van haar kleure,” sê Mimi. “Ek is baie lief vir hierdie plaas en wil dit by my ouers oorneem wanneer ek ouer is. Maar nou is ek eers op pad om die eiers vir my ma te vat; sy kan dit dalk vir die Kersete gebruik.”

 Kyk wat Mimi te sê het oor haar liefde vir Irak, haar hoenders en Kersfees…

Back To Top
Soek