Ondersteun slagoffers van gewelddadige vervolging
Ashima* (26) het onbeskryflike marteling deurgemaak weens haar geloof.
Ashima van Inidë het in 2012 ʼn Christen geword toe sy ʼn tiener was. Haar broer het haar kort daarna uit die dorp verban. Sy het toe by ʼn pastoor se familie tuisgegaan, waar sy as ʼn huisbediende gewerk het. Met die min geld wat sy verdien het, het sy ook haar bejaarde moeder ondersteun.
Ashima het kort daarna gesondheidsprobleme begin ervaar en na haar dorp teruggekeer. Haar broer het geen simpatie gehad nie en het geweier om haar weer in hul huis toe te laat. Sy is gedwing om in die agterbuurte (slums) te bly en los werkies te doen om te oorleef. Haar lewe was baie moeilik, en sy het dikwels nie genoeg gehad om te eet nie. Sy was baie dankbaar toe ʼn meisie met wie sy vriende geraak het vir haar blyplek aangebied het.
Maar die ergste het nog voorgelê… ʼn Paar dae nadat sy ingetrek het, het een van haar vriendin se manlike familielede uitgevind dat sy ʼn Christen is en haar begin haat. Hy het gewag tot sy alleen was en haar verkrag. Sy het haar pastoor van die insident vertel, waarna hy plaaslike vennote van Geopende Deure gekontak het. Ashima wou nie ʼn klagte indien nie omdat dit tot verdere isolasie van die gemeenskap sou lei.
ʼn Plaaslike vennoot van Geopende Deure, Sushil*, het haar besoek en vir haar hulp gereël. “Die dag toe ek haar besoek het, was sy in ʼn skoktoestand. Sy het probeer om met my te praat, maar kon dit nie doen nie omdat haar keel tydens die aanval beseer is. Die aanvaller het haar erg gewurg en op die kop geslaan tot sy gedeeltelik bewusteloos was. Daarna het hy haar verkrag en probeer om haar been met ʼn swaar klip te verbrysel. Haar been is verbind, maar sy was fisies en geestelik gebroke.
“Toe ek haar toestand sien, het ek met ʼn swaar hart vir haar gebid. Sy het bitterlik geween terwyl ek gebid het. Ek het magteloos gevoel, want daar was niks wat ek kon doen nie.”
Toe Sushil drie dae later teruggekeer het, het dit baie beter met haar gegaan. “Ek het die eerste dag nie gehuil omdat ek myself jammer gekry het nie, maar omdat jy soos ʼn broer na my omgesien het terwyl ek gedink het dat ek niemand in die wêreld het nie. My familie het my weens my geloof verwerp, maar God het jou gestuur. Ek is dankbaar omdat God altyd na my omsien,” deel Ashima.
Ongelukkig is Ashima se storie nie uniek nie. Talle Christene betaal die hoogste prys omdat hulle Jesus volg. Dis waarom ek jou vandag vra om ons spesiale Geopende Deure-projek, wat dringende ondersteuning aan slagoffers van gewelddadige vervolging gee, te ondersteun. Oorweeg dit asseblief om hierdie projek te ondersteun.
Deur hieronder te gee, sal jy Geopende Deure help om daar te wees vir ons familie in Christus wanneer hulle ons die nodigste het, met onmiddellike en langtermynondersteuning vir mediese kostes, skuilhuise, traumaberading en meer.
Dankie dat jy aan hulle wys dat hulle nooit alleen is nie!
*Name verander weens sekuriteitsredes.