Van skaam en depressief na gelukkig en trots!
Jong Adel se lewe is deur jou liefde verander

Al is hy ʼn Christen, het Adel nooit Sondagskool bygewoon of baie van God by die huis geleer nie. By sy werk is hy minder betaal as sy Moslem-kollegas. Hulle het hom gespot omdat hy ʼn Christen is, en hy het nie geweet hoe om daarop te reageer nie. “Ek was skaam oor my Christenskap.”
Adel het na ʼn manier gesoek om uit sy ongelukkigheid te ontsnap. Hy het waarskynlik ʼn gevoel van hoop ervaar toe hy van die kinderbediening-klasse hoor. “Ek het besluit om soveel as moontlik van die klasse by te woon. Ek is altyd direk ná die klas weg… ek moes gaan werk.”
Ná een van die klasse het Marta*, een van die veldwerkers, Adel raakgesien. “Hy het alleen in die hoekie gesit. As ek in sy oë gekyk het, het ek ʼn verlore mens gesien. Hy het my van sy lewe vertel, en ek kon die seer voel in die dinge wat hy my vertel het.”

Adel het geleer dat hy uniek geskape is en dat God hom selfs al voor sy geboorte liefgehad het. “Om God te ken, laat my gelukkig voel.” Adel sê: “Ek weet ek het ʼn Vader in die hemel en dat ek altyd met Hom kan praat. Dit is ongelooflik.”
Hy het ook geleer hoe om sy geloof teen die algemeenste wanopvattings te verdedig, en het dit selfs gewaag om met sy kollegas daaroor te praat. Adel leef nou met die wete dat God hom met ʼn doel geskape het. “Hy het ʼn roeping,” vertel Marta.
Sy stryd is egter nog nie verby nie, en ook nie ons reis saam met hom en sy familie nie.
Adel is maar een van ongeveer 5 miljoen Christen-kinders in Egipte. Verlede jaar het ons, te danke aan jou gebede en ondersteuning, sowat 23 500 kinders bereik met die kinderbediening en kinder-apologetiek.
Baie dankie! Deur jou toegewyde gebede en ondersteuning kan ons aanhou om ons geloofsfamilie regoor die wêreld te versterk en te beskerm.
*Vir sekuriteitsredes is name verander en verteenwoordigende foto’s gebruik.
