Skip to content

Jy het Christene gehelp om die Kerstyd te oorleef

Verlede jaar was werkers, vennote en verteenwoordigers van Geopende Deure in staat om Covid-19-verligting te voorsien aan sowat 283 000 vervolgde Christene in Asië. Dit beteken dat in Asië alleen, nagenoeg 300 000 broers en susters tot Kersfees kon oorleef.

“Dit was vir talle mense regoor die wêreld ʼn baie donker jaar. ʼn Jaar wat gekenmerk is deur onsekerhede en verliese… Ons spanne en vennote vertel dat hulle baie kontakte verloor het weens Covid-19, “maar tog het hulle aangehou om die risiko te neem om kosvoorrade en noodleniging aan duisende Christene in hul streke te voorsien,” sê die Kommunikasiedirekteur van Geopende Deure Asië oor 2020.

Die grootste meerderheid van hierdie Christene sou niks gekry het as Geopende Deure nie in staat was om hulle te help nie. En niks hiervan sou moontlik gewees het sonder jou, wie se gebede en ondersteuning so baie van ons vervolgde broers en susters in hul tyd van nood bygestaan het, nie.

Dit is hoe jou gebede en ondersteuning ons vervolgde familie in Asië geraak het…

“Toe die pandemie begin het, het ons net 35 Indiese roepees (ongeveer R7) gehad. Almal was by die huis, aangesien niemand kon werk nie. Die pastoor (ʼn vennoot van Geopende Deure) het ons besoek en gevra hoe dit met ons gaan. Ons het geantwoord ‘oukei’, maar toe ons situasie aan hom verduidelik. Die pastoor het ons van kruideniersware voorsien en nou gaan dit goed,” vertel Ranita* vanuit Indië.

 In Viëtnam het Thao*, ʼn kerkleier, gesê: “Namens al die Christene hier wil ek die ondersteuners bedank. Ons is so dankbaar vir julle hulp, en dat julle onthou het om vir ons te bid en om ons te help. Mag God aanhou om julle te seën en jul lewens te gebruik vir Sy koninkryk.”

Ons weet dat die uitdagings wat gedurende verlede jaar weens die pandemie ervaar is, nie net deur ons vervolgde familie in Christus gevoel is nie. Dis ook deur ons vennote regoor die wêreld gevoel, wat afgesien van hul eie uitdagings saam met ons broers en susters gestaan het.

“Ons vennote in Indië het vertel dat meer as 80% van alle gelowiges wat hulle besoek het, voedselhulp van die regering geweier is. Dit is waarom ons, ons spanne, ons vennote en vervolgde Christene opreg dankbaar is vir die wêreldwye liggaam van Christus. Ons weet hoe moeilik hierdie jaar ook vir hulle was. En afgesien van slegte ekonomiese voorspellings, het hulle genoodsaak gevoel om hul broers en susters in nypende omstandighede te help,” het die Kommunikasiedirekteur van Geopende Deure Asië gedeel.

Dankie vir jou liefde en opofferings om ons familie by te staan in ʼn jaar wat vir almal van ons besonder uitdagend was. In hierdie nuwe jaar is ons werk egter nie klaar nie. Terwyl die pandemie voortduur, het al meer van ons broers en susters hulp nodig om hul families te versorg sodat hulle kan aanhou om die lig van Christus in hul gemeenskappe te laat skyn. Indien dit vir jou moontlik is, vra asseblief dat die Here jou sal lei in hoe jy hierdie jaar vir hulle kan intree.

*Naam verander en verteenwoordigende foto gebruik vir sekuriteitsredes.

Geskenke word aangewend waar dit die meeste benodig word regoor die wêreld – dankie!

Back To Top
Soek