
Roep uit vir hoop
Ons nader die einde van ons Tyd van Weeklaag-reeks en kyk wyer na die hele sub-Sahara Afrika. In hierdie streek verduur miljoene gelowiges vervolging, geweld, ontworteling en trauma omdat hulle kies om Christus te volg.
Kom ons bring ons angs voor God, vol vertroue dat Hy die geroep van sy kinders hoor.
Hierdie maand se leesstof
Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan?
Kyk tog self of daar ʼn smart is
soos die smart wat oor my gekom het,
wat die Here my aangedoen het
die dag toe sy toorn losgebreek het.
Klaagliedere 1:12
Oordenking
Gelowiges beleef ondenkbare ontberings regoor die gebied van Nigerië tot by Mosambiek, en van Soedan tot by Kameroen. Ekstremiste geweld, burgeroorloë, geteikende aanvalle, ontvoerings, seksuele geweld en ontworteling neem steeds toe. Baie mense het hul huise, besittings, geliefdes en die gevoel van veiligheid wat hulle eens geken het, verloor.
Ons 2026 Wêreldwaarnemingslys toon dat 13 van die top 50 lande waar Christene ernstige vervolging beleef, in sub-Sahara Afrika is. Hierdie lande is:
- Somalië (#2)
- Soedan (#4)
- Eritrea (#5)
- Nigerië (#7)
- Mali (#15)
- Burkina Faso (#16)
- Sentraal-Afrikaanse Republiek (#22)
- Niger (#26)
- Demokratiese Republiek van die Kongo (#29)
- Ethiopië (#36)
- Kameroen (#37)
- Mosambiek (#39)
- Comore (#43)
- Tsjad (#48)
Kom ons weeklaag oor die verskriklike lyding wat ons vervolgde familie regoor sub-Sahara Afrika beleef waar families uitmekaar geruk, gemeenskappe ontwortel, vroue geskend, kinders getraumatiseer en kerke aangeval word.
Reaksie
- Weeklaag oor die geweld, trauma en vervolging wat gelowiges regoor sub-Sahara Afrika verduur.
- Bid vir vertroosting, krag en beskerming vir almal wat ly omdat hulle in Christus glo.
- Bid vir vrede, geregtigheid en herstel van nasies wat deur oorloë en ekstremistiese geweld uitmekaar geskeur word.
- Vra dat God die Kerk sal krag gee en onderhou om ʼn lig in die duisternis te wees.
Ons Vader, U wat die geteisterdes sien en tot die gebrokenes van hart nader, sien in U genade U kinders regoor sub-Sahara Afrika raak. U ken hul trane, hul seer en hul verliese. Ons bring hul pyn voor U in die vertroue dat U hul roepstem hoor.
Soos ons aan die einde van ons Tyd van Weeklaag-reeks oor die vervolging van ons familie in sub-Sahara Afrika kom, is daar ook ʼn greintjie hoop wat ons nie moet miskyk nie. Ons Here sien. Hy hoor. En Hy laat alles ten goede meewerk vir dié van ons wat Hom liefhet (Romeine 8:28). Dit beteken nie dat dit maklik gaan wees terwyl Hy ons verander na sy Seun se beeld nie (Romeine 8:29), maar die herinnering troos ons dat God alles in sy Hande hou en alles doen tot sy kinders se beswil.
Daarom verklaar ons saam met die profeet in Klaagliedere 3:21-22:
Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie,
daar is geen einde aan sy ontferming nie.
Ongeag wat gebeur, weet ons dat hierdie waarheid vasstaan: Ons Here heers vir altyd en sy troon staan vas van geslag tot geslag (Klaagliedere 5:19).
Ons hoop vir ons vervolgde familie is dat:
God hulle nie verlaat het nie.
God nie hul trane vergeet het nie.
God sal optree.
Reflekteer
Hoe help weeklaag jou om terselfdertyd hartseer en hoopvol te wees?
Wat beteken dit vir jou om God vir sy ontferming te vertrou, selfs al lyk jou omstandighede somber?
*Let wel: Geweld word in die Wêreldwaarnemingslys (WWL)-metodologie gedefinieer as die ontneming van fisiese vryheid, liggaamlike leed aan Christene of skade aan hul eiendom. Dit sluit ernstige dreigemente (geestelike mishandeling) in.
