Skip to content

Wêreldwaarnemingslys 2018: 1 uit elke 12 Christene verduur “uiterste” mates van vervolging

Wêreldwyd is daar 2,48 miljard Christene. Ongeveer 215 miljoen van hierdie Christene, of 1 uit elke 12 Christene in lande op die Top-50 van die Wêreldwaarnemingslys, verduur “uiterste” mates van vervolging. Dit is volgens Geopende Deure se 2018 Wêreldwaarnemingslys (WWL), wat vandag vrygestel is.

Geopende Deure, stel jaarliks ʼn Wêreldwaarnemingslys vry wat die Top-50 lande lys waar dit die moeilikste is om ʼn Christen te wees. Die WWL meet die verskillende tipes vervolging wat Christene regoor die wêreld ervaar vanaf hul regering, gemeenskap en selfs vanaf hul eie familielede. Dit neem ook die beperkinge in ag wat Christene in hul private lewens ervaar, of hulle saam met ander gelowiges byeen kan kom, asook die fisieke geweld wat teen hulle gepleeg word.

Hierdie jaar het Noord-Korea en Afganistan, volgens die 2018 WWL, die hoogste totale vervolgingstelling verkry en staan dié twee lande bo aan die lys. Alhoewel dié lande se politiese en sosiale strukture wesenlik verskil, het die navorsingsperiode vanaf November 2016 tot Oktober 2017 aangedui dat hierdie twee lande die maksimum punte gekry het vir die mate van druk wat op Christene uitgeoefen word. Dit is slegs die punte vir “geweld teen Christene” wat die onderskeid tussen die eerste en tweede plekke getref het. Pakistan het egter die nie-benydenswaardige eer verkry om die enigste land op die 2018 WWL te wees, wat die maksimum punte vir “geweld teen Christene” verkry het.

Die top tien lande waar Christene tans die meeste vervolging ervaar:

#1 Noord-Korea (94/100)
#2 Afganistan (93/100)
#3 Somalië (91/100)
#4 Soedan (87/100)
#5 Pakistan (86/100)
#6 Eritrea (86/100)
#7 Libië (86/100)
#8 Irak (86/100)
#9 Jemen (85/100)
#10 Iran (85/100)
Bron: Geopende Deure/World Watch Research

Nuwe lande op die Top-50 en lande wat die meeste gestyg het op die 2018 WWL

Libië (86 punte/#7) en Indië (81 punte/#11) het albei met 8 punte gestyg, wat in Indië se geval duidelik as gevolg van die groeiende invloed van radikale Hindoeïsme was. Tydens die 2018 WWL-verslagdoeningsperiode, is ten minste 8 Christene in Indië doodgemaak vir hul geloof deur militante Hindoes, ten minste 34 kerke beskadig en amper 24,000 Christene aangeval.

Nuwe lande wat die Top-50 gehaal het, is Nepal (63 punte/#25) en Azerbaidjan (57 punte/#45). In Nepal het ʼn skerp toename in Godsdienstige nasionalisme plaasgevind, met Hindoe-radikales wat aktief meer druk op Christene plaas, asook geweld teen Christene pleeg. In Azerbaidjan het die toegang tot meer inligting aangaande polisieklopjagte en arrestasies, onder andere, ʼn styging in die puntetoekenning tot gevolg gehad.

Meer as 3,000 Christene doodgemaak vir hul geloof

Volgens Geopende Deure se navorsing, is 3,066 Christene regoor die wêreld na raming doodgemaak tydens die 2018 WWL-verslagdoeningsperiode. Soos duidelik sigbaar in die onderstaande tabel, het die aantal Christene wat doodgemaak is vir hulle geloof, weer gestyg vanjaar na ʼn afname tydens die 2017 WWL-verslagdoeningsperiode.

Aantal Christensterftes aangeteken:

2018 WWL: 3,066
2017 WWL: 1,207
2016 WWL: 7,106
Bron: Geopende Deure/World Watch Research

Daardie afname was spesifiek weens ʼn afname in Boko Haram-aktiwiteite in Nigerië tydens die 2017 WWL-verslagdoeningsperiode. Maar, die sterftes in Nigerië het weer gestyg wees die vlae aanvalle deur goed-bewapende Fulani-Moslem-veewagters op Christengemeenskappe in die Middel-Belt-state. Berigte verwys hierna as “godsdienstige suiwering” (etniese suiwering gebaseer op godsdienstige affiliasie).

“Geweld teen Christene hier op ons eie kontinent van Afrika, het drasties toegeneem – dis veral die Kerk in lande soos Nigerië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Kongo (DRK), wat hieronder gebuk gaan,” meen Jan Gouws, Uitvoerende Direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika.

Om vervolging te meet is meer as net die aantekening van gewelddadige insidente

Vervolging beteken nie noodwendig sterftes of lang gevangenisstrawwe nie. Die Maledive, met 78 punte in die 13de plek, is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Alhoewel berigte van gewelddadige insidente teen Christene blyk om min te wees in hierdie sogenaamde vakansiebestemming, dui navorsing oor die “kerklewe in die Maledive” daarop dat die druk op Christene op die maksimum is.

Soos die Besturende Direkteur van Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys Navorsingspan, Frans Veerman, verduidelik: “Dit is nie moontlik om kerkdienste te hou nie, en selfs die meeste buitelandse Christene verkies om nie byeenkomste te reël nie, uit vrees vir die nagevolge. Wanneer jy die individuele landsoorsigte lees, kry die puntetoekennings ʼn dieper betekenis – ʼn realiteit.”

Om die pleidooi van vervolgde Christene bekend te maak

Die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys en die omvattende landsoorsigte word jaarliks gepubliseer as ʼn instrument 1) om bewusmaking te skep deur middel van die media; 2) vir politici om ingeligte besluite te neem; en 3) vir kerke regoor die wêreld om Christene op die frontlinies te ondersteun.

Vir meer besonderhede, of om ʼn onderhoud te reël, epos [email protected] of skakel (011) 888 9341.

Back To Top
Soek