Skip to content

Aardbewing-opdatering

Dit is wat jou gebede en geskenke gedoen het!

Danksy die geskenke en gebede van Geopende Deure-ondersteuners, is ons in staat om die mense van God in Sirië met beide noodleniging en langtermynhulp by te staan terwyl hulle begin herstel.

Die aardbewing het veroorsaak dat meer as 7 000 mense in Aleppo hul huise moes verlaat en gedurende die eerste paar dae in kerke en kloosters moes bly. Ons plaaslike vennote het eerste gereageer. Al die kerke was nie vir so ʼn krisis voorbereid nie, en ons Geopende Deure-vennote het aan verskeie kerke voedsel, water, komberse, matrasse en verwarmers voorsien, wat hulle toegerus het om na hul gebroke gemeenskappe uit te reik.

Merry en haar vriende was deel van die uitstorting van ondersteuning vir Christene in Sirië ná die aardbewing. “In die twaalf dae ná die aardbewing was ons in staat om meer dikwels liefde te wys as wat ons tydens die twaalf jaar van oorlog kon deel,” deel sy.

Merry self is ʼn jong gelowige wat weens vervolging en oorloë swaarkry ervaar het. Sy het laat in 2022 opleiding deur Geopende Deure-vennote in Sirië ontvang – ʼn program wat deelnemers gehelp het om te sien hoe hulle sport kan gebruik om mense te help om die lig van Christus te sien en mense na die kerk te bring. Sy het tydens die opleiding oor die organisasie en maaltye toesig gehou, en is ook meer oor noodhulp geleer. Hoe wonderlik dat sy in staat was om haar opleiding tydens die dekade se grootste natuurlike ramp toe te pas!

Merry het saam met haar broer en ander jongmense wat aan die opleiding deelgeneem het ʼn verligtingspan op die been gebring om mense deur die nasleep van die aardbewing te help. Die span het hulp ontvang van familielede en vriende wat oorsee bly en het begin om voedsel- en higiëneprodukte vir behoeftige mense aan te koop, te verpak en te versprei.

“Ons het die take soos ʼn sokkerspan opgedeel,” sê sy. “Vir ons was ‘wen’ om mense te help en menslikheid te wys; ons het ʼn boodskap om te stuur, en dit is die boodskap van liefde.”

Dit wys die volle sirkel van ondersteuning wat in dié streek plaasvind. Ons prys God! 

Ander belangrike ondersteuning wat jy help voorsien het:

  • 5 038 gesinne is ondersteun met eenmalige kontantbewyse wat noodsaaklik vir verligting is. 
  • 2 500 gesinne is geïdentifiseer wat vir ses maande kontantbewyse ontvang het. 
  • 1 200 huise is deur ingenieurs ondersoek, 780 is reggemaak of in die herstelproses 
  • 40 woonstelblokke is geïdentifiseer wat versterking nodig het – ons vennote was in staat om werk aan 7 van hierdie blokke te begin of te voltooi 
  • 40 gesinne het huurondersteuning ontvang nadat bepaal is dat hul huise onveilig was om na terug te keer. 

Daar is nog baie om te doen – maar ons is toegewyd aan langtermynondersteuning vir die Christen-gemeenskap in Sirië. Ons doelwit is om al 50 000 Christene in Aleppo en Latakia te dien, sowel as verborge groepe gelowiges wat vanaf Islam tot bekering gekom het – ʼn besluit wat steeds uiters gevaarlik in Sirië kan wees.

Wanneer ons met noodleniging en langtermynbehoeftes help, kan die Christen-gemeenskap aanhou om die Kerk te wees en die Koninkryk in die gevaarlikste plekke uit te bou. Dankie dat jy deur jou gebede en ondersteuning deel van hierdie missie is!  

Indien jy vandag kan gee, sal jou geskenk Geopende Deure help om ons familie in die gevaarlikste plekke by te staan wanneer noodgevalle en vervolging plaasvind. Dankie!

  • Hidden
  • Hidden
  • Hidden
  • Jy sal na PayFast se webwerf verwys word om ʼn maklike en veilige donasie aan Geopende Deure te maak wanneer jy die “Skenk Nou”-knoppie klik

Back To Top