Skip to content

Ontmoet ons gassprekers

Suster Eti

Suster Eti het grootgeword in ʼn Christenfamilie in Bangladesj. Sy het ʼn Meestersgraad aan die Internasionale Nagraadse Skool van Leierskap in die Filippyne verwerf. Sy is al vir 19 jaar getroud aan Ds. Abdul, ʼn voormalige Moslem, en hulle het twee dogters. As ʼn vrou en moeder sien sy haar familie as haar God-gegewe eerste wingerd waar sy haar gawes en talente, wat sy van die Heilige Gees ontvang het, kan beoefen.

“As iemand wat in ʼn Islamitiese nasie woon, was ek al die slagoffer van vervolging, maar ek het baie geleer oor God se liefde en volharding in die geloof. Ek het ervaar hoe God se krag sterker is as vrees!”

Suster Eti dien die vervolgde Kerk in Suid- en Suidoos Asië, veral in Bangladesj, waar sy kurrikulums vir verskillende programme skryf om verskeie groepe (jeug, mans, vrouens en paartjies) van die vervolgde Kerk te versterk.

Pastoor Peter

Pastoor Peter is in ʼn Christenfamilie gebore in Suidoos-Asië. Sy ouers het van Hindoeïsme na Christenskap bekeer, so vervolging is nie iets vreemds vir dié familie nie… Peter het grootgeword en gesien hoe sy ouers God met passie dien. Sedert sy kinderdae het hy gesien hoe pastore sy pa besoek en in trane hul pyn en uitdagings met hom deel.

“Ek het altyd belas gevoel wanneer ek pastore gesien het wat ly, en ek het gereeld tot God gebid om my ʼn geleentheid te gee om hulle te vertroos. Toe ek die geleentheid gekry het om onder vervolgde Christene te werk, het ek besef dat my gebede beantwoord is,”

Hy werk nou onder vervolgde Christene in Suidoos-Asië, waar hy hulle ondersteun en bemoedig deur verskeie programme.

*Verteenwoordigende fotos gebruik vir sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek