Skip to content

Sirië: IS Ontvoer na Beraming 70 – 100 Siriese Christene

World Watch Monitor berig dat militante van die self-geproklameerde Islamitiese Staat (IS) ʼn fel aanval geloods het op Maandag 23 Februarie, voor sonsopkoms. Die teiken van hul aanval was 35 Assiriese Christendorpe in die noordoostelike hoek van Sirië.

Die onverwagse aanvalle binne ʼn 40 kilometer afstand langs die Khabour-rivier in die Hassaka-provinsie, waar duisende Assiriese Christene teenaan die rivierbank leef in ʼn string dorpies aan beide kante van die rivier, het bykans 3 000 Christene forseer om vanuit hul huise na groter stede te vlug. ʼn Tiener Christenseun en vier Assiriese burgermagvegters is volgens berigte in die eerste dag van konflik gedood en dosyne Assiriese mans, vroue en kinders is as gyselaars aangehou.

ʼn Onbevestigde aantal Christene, vanuit ten minste 100 Assiriese gesinne, is ontvoer nadat hul dorpie oorgeneem is deur IS. Die gyselaars is gevange geneem vanuit Tel Shamiran, Tel Goran, Tel Jezirah en Tel Hormizd. ʼn Bron het gesê dat IS-militante in dié vier dorpe, die mans wat as gyselaars aangehou is, geskei het van hul families en dat die vroue en kinders in hul huise onder bewaking gelaat is. Hoë Priester Emanuel Youkhana van die Assiriese Kerk van die Ooste het gesê, “die lot van hierdie families is vir ons baie kommerwekkend.”

Volgens World Watch Monitor, het Youkhana gesê dat teen die aand van 23 Februarie, meer as 600 Assiriese Christenfamilies gevlug het na Hassaka en Qamishli, twee van Sirië se grootste stede. Alhoewel nabye Soennie-Arabiese dorpe, “oor die algemeen” die IS-oorname ondersteun het, het Youkhana se bron vertel dat sommige Soennie-Arabiere naby Qabr Shamya, ingetree het en 15 vasgevange Assiriërs na veiligheid in Hassaka gelei het.

Volgens Mar Aprem Nathniel, Biskop van Sirië van die Assiriese Kerk van die Ooste, was St. Mary Church in Hassaka “oorvol met die mense”, totdat meeste uiteengegaan het na plaaslike Christene in die stad se wonings.

Hassaka is slegs 55 kilometer vanaf die provinsie se oostelike grens met Irak. Die provinsie is spesifiek strategies vir die IS-koalisievegters, omrede dit geleë is op ʼn ligging wat grens aan Turkye en die Irak-streke onder die djihads se beheer.

Volgens die aanlyn Rudaw nuusgroep, is draadlose gesprekke tussen IS-djihads gehoor waarin hul beweer dat “56 kruisvaarders” gevangene geneem is vanuit een Christendorp. Die Syrian Observatory for Human Rights het berig dat “ten minste 90” Assiriërs gevange geneem is.

Geopende Deure dring by Christene daarop aan om asseblief dringend te bid vir die ontvoerde Assiriese Christene. Mag hul aanhou om vas te vertrou in die Here en mag hul bewus wees van sy wonderlike teenwoordigheid. Bid ook asseblief vir die families van die ontvoerde Christene en vir die duisende wat uit hul huise moes vlug.

Back To Top
Soek