Skip to content

Sirië: “Die bloedbad van Aleppo”

Tientalle mense is tydens die afgelope paar weke doodgemaak tydens ʼn golf van gewelddadige botsings tussen
regeringsmagte en rebelle in Aleppo, Sirië. Tydens ʼn noodvergadering van die Verenigde Nasies (VN), het die VN se Uitvoerende Hoof van Humanitêre Sake gesê dat honderde burgers doodgemaak of beseer is tydens willekeurige aanvalle oor die afgelope tien dae, in wat hy ‘die bloedbad van Aleppo’ noem.

“Nog nooit, sedert die begin van hierdie aaklige oorlog, was dinge so erg soos wat dit nou is nie. Ek het nie woorde om die swaarkry te beskryf wat ek op ʼn daaglikse basis sien nie,” sê ʼn Siriese kerkleier. Na ʼn ‘stil’ tydperk met betrekking tot aanvalle, het die situasie in Aleppo ʼn drastiese wending geneem oor die laaste paar dae.

26 April was “’n bloedige dag in Aleppo” het ʼn Christenman in dié stad gesê. “In een deel van die stad het dit koeëls gereën. Tientalle mense is beseer; 17 is gedood. Suleymaniye is ook getref. Dit is ʼn Christenarea.” Op 3 Mei is ʼn kraaminrigting in ʼn gebied wat deur die regering beheer word, deur die rebelle geteiken en is ten minste drie mense doodgemaak. Dít kom na ʼn dodelike lugaanval deur die regering, ʼn paar dae vantevore, op ʼn ander hospitaal in die ooste van Aleppo – ʼn gebied wat deur die rebelle beheer word.

“Van die besigste strate in Suleymaniye is leeg na wat gebeur het. Al die winkels is gesluit. Ek het by ʼn vriend gehoor dat hy net drie of vier mense sien loop het in ʼn straat wat gewoonlik stampvol is. Ek het by hom aangedring om binnenshuis te bly,” het nog ʼn Siriër gesê.

Biskop Antione Audo, van die Chaldean Church in Aleppo, het onlangs berig dat in slegs vyf jaar van konflik en vervolging, die Christenpopulasie in Sirië met twee-derdes verminder het – van 1,5 miljoen na slegs 500 000 vandag. Volgens hom is omstandighede in Aleppo selfs erger as in die res van Sirië, met net ʼn kwart van die Christenpopulasie wat nog oor is sedert die begin van die Siriese burgeroorlog in 2011.

Elders in die streek het die Islamitiese Staat groot dele oorgeneem en tienduisende mense in beide Sirië en Irak op vlug laat slaan.

Hierdie afgelope Sondag, 8 Mei, het Siriese kerke, oor denominasies heen, verenig in vas en gebed om te bid vir die Here se kragtige ingryping in hul land. Bid asseblief vir ons broers en susters in Sirië, #5 op Geopende Deure se 2016 Wêreldwaarnemingslys van plekke waar Christene die ergste vervolging ervaar.

Back To Top
Soek