Skip to content

Beste Vriend/in van die vervolgde Kerk,

Een Sondagoggend in ʼn klein dorpie in Asië het ek ʼn dogtertjie gesien wat om die hoek van ʼn kerkgebou loer. Ek het ʼn foto van haar geneem en kon nie help om die hartseer op haar gesig raak te sien nie.

Dit is hartverskeurend dat vervolging nie onskuldige kinders ontsien nie. Hulle verstaan nie hoekom hulle ouers gevange geneem of vermoor word nie, of hoekom hulle sleg behandel word omdat hulle Jesus volg nie.

Trauma en hartseer laat geweldige letsels wat jare kan neem om te genees, selfs vir die wat gelukkig genoeg is om berading te ontvang. Die hartseer is dat party sukkel om ten volle te herstel van die gruweldade wat hulle as kinders gesien het. Maar jou ondersteuning help om hoop te bring.

Wanneer ek dink aan die vervolging wat hierdie jong kinders verduur, word ek herinner aan wat Jesus gesê het: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die Koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (Markus 10:14).

Miljoene kinders word verhinder om na Jesus toe te kom – of geterroriseer omdat hulle na Hom draai – in baie lande regoor die wêreld.

Om hulle te help om vervolging te verduur en vorentoe te beweeg, na die pyn wat hulle ervaar het, is nie ʼn korttermynproses nie. Ek en jy moet daar wees vir hulle op die langduur. Dit is hoekom jou volgehoue ondersteuning en gebede so belangrik is.

Jy bring genesing en hoop aan vervolgde kinders en hul families, en jy versterk hulle om die sout en lig te wees in die donkerste plekke op aarde. Dankie dat jy langs hulle staan. God seën jou!

Saam in Sy diens,

Jan Gouws
Uitvoerende Direkteur
Geopende Deure Suider-Afrika

Back To Top
Soek