Skip to content

Beste Vriend/in van die vervolgde Kerk,

Regoor die wêreld sien ons ʼn dramatiese toename in die aantal Christene wat daaglikse vervolging in die gesig staar.

Op hierdie jaar se Wêreldwaarnemingslys het meer lande as ooit tevore opgeskuiwe in terme van meer vervolging vanweë strukturele-, wettiese- en gemeenskapsbeperkinge – duidelik sigbaar in diskriminasie en vyandigheid.

Geweld neem steeds toe namate Nigerië en Pakistan gelyk staan in die top posisie vir die gewelddadige vervolging teen Christene.

Wat beteken dit alles vir ons as Christene?

Om te verstaan moet ons na Efesiërs 4:16 kyk, wat sê, “Van en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ʼn eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”

Ons as die “vry” Kerk is die ondersteunende ligamente wat die gebedskrygers moet wees vir daardie lede van die liggaam van Christus wat op die frontlinies van ons geloof veg. Hulle geveg is ons geveg, hulle verlies is ons verlies, hulle pyn, ons pyn. Ons is deel van dieselfde liggaam, en hulle word vervolg vir ons geloof in Jesus Christus.

Hulle moet weet dat namate die geveg verskerp, hulle nie alleen of vergete is nie.

En dit is wat jou gebede en ondersteuning verseker, namate jy die liggaam help om te groei en haarself in liefde op te bou. As ons ons deel doen, sal ons Here Jesus Christus verheerlik word deur ons en hulle. Dankie dus dat jy daardie “ligament” is wat ons vervolgde broers en susters vashou en aanmekaar verbind deur jou gebede en ondersteuning.

Saam in Sy diens,

Jan Gouws
Uitvoerende Direkteur
Geopende Deure Suider-Afrika

Back To Top
Soek