Skip to content

Beste Vriend/in van die vervolgde Kerk,

Jy het in hierdie nuusbrief gesien dat intense vervolging besig is om toe te neem in Indië. Dit is ʼn nasie wat sterk bande het met Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Kerk. Die Christene daar staar daaglikse dreigemente van teistering, aanvalle, gevangenskap en selfs moord in die gesig. Daar was verlede jaar alleen, meer as 600 bevestigde gevalle van geweld teen Christene.

ʼn Hegte vriend van Geopende Deure het my onlangs vertel van ʼn insident waar ʼn pastoor wat ʼn boks Bybels in sy kar gehad het, deur ʼn groep Hindoe-ekstremiste gestop is. Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy mense onder dwang na Christenskap bekeer. Daarna het hulle hom aangeval, die Bybels verbrand en hom gewaarsku om sy bediening te beëindig, of om die gevolge te dra. Afgesien van die dreigemente, doen hy steeds dapper die Here se werk.

Maar hierdie dapper broer is slegs een van die talle Christene in Indië wat sulke aanvalle verduur, veral namate Hindoe-ekstremiste meer brutaal in hul aanvalle is in ʼn poging om Indië in ʼn Hindoe-staat te verander.

Jou vennootskap en gebede is nou, meer as ooit vantevore, van kardinale belang vir ons broers en susters in Indië. Dankie dus vir jou voortdurende ondersteuning. Bid asseblief saam met my dat hulle sterk en moedig sal wees en nie bang of mismoedig sal raak nie, en dat hulle herinner sal word dat die Here saam met hulle gaan waar hulle ook al is (Josua 1:9).

Psalm 94:19 sê, toe “angstigheid binne my was, het U vertroosting vir my vreugde gebring.” En saam, sal ons die Kerk in Indië herinner aan God se teenwoordigheid en getrouheid te midde van hul swaarkry.

Jy bou God se Koninkryk uit in Indië, en dit is vir my ʼn eer om saam met jou te staan!

Saam in Sy diens,

Jan Gouws
Uitvoerende Direkteur
Geopende Deure Suider-Afrika

Back To Top
Soek