Skip to content

Beste Vriend/in van die vervolgde Kerk,

Wat is gebed? Is dit net ʼn manier om met God te kommunikeer, of is daar meer daarby betrokke?

Die teoloog, Karl Barth, het eenkeer gesê, “Om die hande saam te vou in gebed is die begin van ʼn opstand teen die warboel van die wêreld.”

Gebed is ʼn manier waarop ons met God kommunikeer, maar dit is ook ʼn kragtige wapen teen Satan en sy greep op ons wêreld. Satan weet wat die krag van gebed is, en hy bewe wanneer Christene verstaan watter krag hulle uitoefen wanneer hulle op hul knieë gaan.

Maar wanneer ons bid is dit belangrik om te volhard. Om die belangrikheid van gebed en volharding te illustreer het Jesus aan Sy dissipels die gelykenis vertel van ʼn weduwee wat herhaaldelik ʼn regter vra om reg te laat geskied teen haar teenparty (Lukas 18:1-8). Uiteindelik, as gevolg van haar volharding, gee hy toe aan haar versoek.

En hieroor sê Jesus, “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? … Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!” (v. 7-8, 1983 Vertaling).

In sy boek, Gebed: Die Werklike Stryd, sê Broer Andrew, “Ons volharding [in gebed] beteken dat ons geen ander oplossing het nie. Ons volharding beteken dat ons lief is vir ons vriende en dat ons sal aanhou om namens hulle te pleit.”

Jou ruimhartige vennootskap en voortdurende gebede vir ons vervolgde broers en susters toon jou liefde vir hulle en help hulle om die volle wapenrusting van God aan te trek (Efesiërs 6:10-18) te midde van die geestelike stryd wat hulle veg.

Staan dus asseblief saam met ons gedurende Mei-maand, namate ons tot God pleit vir ʼn deurbraak in die Moslemwêreld terwyl Moslems regoor die wêreld gedurende Ramadan vas.

Saam in Sy diens,

Jan Gouws
Uitvoerende Direkteur
Geopende Deure Suider-Afrika

Back To Top
Soek