Skip to content

Noord-Korea: 70 Jaar na Auschwitz

Volgende Dinsdag, die 27ste Januarie, gaan gemerk word deur 70ste herdenkingseremonies, in herinnering van die bevryding van die Nazi-Duitse konsentrasie- en dodekamp, Auschwitz-Birkenau.

Dit is 70 jaar, volgens die Auschwitz-Birkenau Gedenkteken en Museum webwerf1, sedert die finale ontruiming van 56 000 gevangenes uit die Nazi-Duitse Auschwitz konsentrasie- en dodekamp begin het. Die webwerf herinner verder ook dat tussen nege en 15 duisend mense in een van die laaste “Death Marches”
in dieselfde maand gesterf het.

ʼn Geopende Deure-kollega, Jan Vermeer, wat onlangs ʼn besoek aan Auschwitz afgelê het, vertel die volgende in Walking through Auschwitz with North Korea on My Mind,

“’Het ons nie na Auschwitz gesê, “Nooit weer nie”?’ Die toergids het afgekyk terwyl sy na die gesloopte gaskamer gestap het. ‘Ja,’ het haar kalm antwoord gekom. ‘Dit is duidelik dat ons misluk het.’ 70 jaar na die Sowjet-troepe die Nazi’s se grootste konsentrasie kamp Auschwitz-Birkenau vrygemaak het en 25 jaar ná die val van die Berlynse Muur, is daar steeds mense wat uitgewis word in ʼn land soos Noord-Korea.”

Vir die 13de agtereenvolgende jaar, lys die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys hierdie as die land waar Christene die ergste vervolging ervaar. Die leier Kim Jong-Un, sowel as sy voorgangers, word soos gode aanbid en laat geen ruimte vir enige ander geloof nie en Christene staar ondenkbare druk op elke terrein van die samelewing in die gesig. Christene is daarom verplig om slegs in die geheim byeen te kom en uit vrees vir gevangeneskap in arbeidskampe, durf hulle nie om hul geloof met hul families te deel nie. Christenouers steek selfs hul geloof weg van hul kinders. Enigeen wat gevang word terwyl hul in die geheim betrokke is by godsdienstige aktiwiteite, mag onderhewig wees aan inhegtenisname, arbitrêre aanhouding, verdwyning, marteling, en selfs openbare teregstelling. Sou individue se geloof ontdek word, word nie net hulle nie, maar ook hul families daardeur geraak.

Dit klink alles baie bekend… Die Auschwitz-Birkenau herdenkingseremonies is ʼn geleentheid om nie net die verlede te onthou nie, maar ook om kennis te neem en herinner te word aan wat gebeur in die hede. Die Liggaam van Christus het broers en susters wat daagliks veg vir hulle lewens in Noord-Korea – wat nodig het dat ons vir hulle ʼn stem sal wees, vir hulle sal bid en aan hulle fisiese ondersteuning sal bied.
Geopende Deure wil Christene in Suid-Afrika aanmoedig om ʼn stem te wees vir Noord-Koreaanse Christene op die 27ste Januarie, terwyl ons diegene onthou wat gesterf het in Nazi konsentrasiekampe en ook oorleef het.

Jan Vermeer sluit sy artikel met die volgende af,

“Die laaste plek wat ons besoek is die toilette. Dit is herbou. ‘Dit was ʼn gebou wat so vuil was dat die SS-offisiere dit nie binne wou gaan nie,’ het die toergids verduidelik. ‘Maar dit was warmer as buite. Dus het die gevangenes verkies om hier te werk en dit skoon te maak.’

“Ek sien ʼn lang ry van gate waar mense moes sit tydens hulle vlugtige ruskanse. Skielik het die toergids weer haar stem verhef. ‘Omdat die SS nie hierheen gekom het nie, was dit ook ʼn plek waar groe pies Jode en Christene bymekaar sou kom om te bid.’

“Onmiddellik het ek Hea Woo se gesig voor my gesien. Die 70-jarige dame het drie jaar in ʼn Noord-Koreaanse arbeidskamp oorleef. ‘Elke dag was asof die Here al tien plae gelyktydig op ons uitgestort het. Dit is hoe moeilik dit was. Maar God het my ook getroos en het ʼn geheime gemeenskap tot stand gebring. Elke Sondag het ons bymekaargekom in die toilette en gebid.’

“Ek dank God. Hy is dieselfde gister, vandag en môre. Mense het Hom aanbid in Auschwitz en mense aanbid Hom vandag in Noord-Koreaanse kampe. Waar daar duisternis is, brand kerse. Dowwe ligte, so dof miskien dat dit onsigbaar is vir die menslike oog, maar God sien hulle.”

Back To Top
Soek