Skip to content

Nog ontvoerde Assiriese Christene vrygelaat deur die Islamitiese Staat (IS)

Die oorblywende 43 Christene, wat byna ʼn jaar gelede deur die Islamitiese Staat (IS) gevange geneem is in Sirië, is vrygelaat. Rekenskap kan gegee word van elkeen wat in Februarie verlede jaar ontvoer is tydens die klopjagte wat IS uitgevoer het op die hoofsaaklik Assiriese dorpe in noordoostelike Sirië.

Die Islamitiese Staat (IS) het op Maandag, 22 Februarie, die oorblywende 43 Christene vrygelaat wat byna ʼn jaar gelede ontvoer is in dorpe langs die Khabour-rivier in noordoostelike Sirië en as gyselaars aangehou is.

Die vrygelate Assiriese Christene is deel van die groep van 230 mense wat deur IS ontvoer is in Februarie verlede jaar, toe IS die 35 oorwegend Assiriese dorpies in daardie streek aangeval het. Al die gyselaars wat tydens daardie klopjagte ontvoer is, kan nou voor rekenskap gegee word en feitlik elkeen is vrygelaat; talle in die laaste paar maande na afloop van onderhandelings deur kerkverteenwoordigers. In ʼn video wat IS vroeg in Oktober 2015 vrygestel het, wys hulle die teregstelling van drie Assiriese Christene – twee van die Christene was ook deel van die oorspronklike 230.

In ʼn verklaring deur die Assyrian Church of the East Relief Organisation bedank hulle elkeen wat die Assiriërs van Sirië ondersteun het tydens hierdie moeilike 12 maande-lange ontbering. Terwyl hulle verheug is oor die vrylating van hierdie gyselaars, maak hulle ook melding van die verreikende gevolge van die verliese wat die Assiriese gemeenskappe van Sirië ervaar – insluitende die verwoesting van hul lewensbestaansaktiwiteite.

Moet asseblief nie ophou om te bid vir die Christene in Sirië wat afkomstig is van ander plekke, wat tydens ander insidente in die land ontvoer is nie. Bid dat hulle ook binnekort vrygelaat sal word en dat hulle sal voortgaan om op die Here te vertrou. Bid ook vir die herstel van die Christene wat onlangs vrygelaat is.

Back To Top
Soek