Skip to content

‘Mense is so honger vir die Woord’

Jy deel die Evangelie met mishandelde trekarbeiders in die Arabiese Skiereiland… As die hartland van Islam, is die Arabiese Skiereiland ongasvry teenoor Christene. Beperkings maak dit moeilik om die Bybel te versprei. Tog, met jou hulp, hoor trekarbeiders steeds die Evangelie, en kerke vir immigrante, sowel as ondergrondse kerke is besig om te groei.

Judah* is ʼn Bybelverspreider in die streek wat deur jou en Geopende Deure ondersteun word. Hy vertel hoe God se Woord in die Arabiese Skiereiland versprei word – en hoe nuwe maniere van verspreiding veroorsaak dat baie in die Arabiese wêreld meer ontvanklik raak vir die Evangelie.

“Die Woord van God word hier geëet. Mense is so honger vir die Woord dat dit net eenvoudig ʼn weg
na hulle vind,” sê Judah.

Die Arabiese Skiereiland bied werksgeleenthede vir miljoene Asiese trekarbeiders – kantoor- en huishoudelike werkers, arbeiders en kinderoppassters. Hulle staar almal slegte behandeling in die gesig. Maar Christenwerkers ontvang die slegste behandeling, as gevolg van hul werkgewers se vermeende Islamitiese meerderwaardigheid.

Werknemers, veral huishoudelike werkers, is kwesbaar vir fisieke en seksuele mishandeling. En in die algemeen ontvang baie arbeiders, vir maande aaneen, geen inkomste vir hul werk nie, wat dit dan moeilik maak om hul families in hul tuislande te ondersteun.

Bid asseblief dat meer mense in die Arabiese Skiereiland die waarheid van God se Woord sal aangryp.

Tog, te midde van hierdie omstandighede, vind trekarbeiders vir Jesus. In Saoedi-Arabië alleen, het verskeie leiers van geheime kerke gerapporteer dat 80% van hul kerklede tot bekering gekom het terwyl hulle in daardie land gewerk het.

Hierdie nuwe Christene benodig ʼn Bybel in hul eie taal. Maar ongelukkig, sê Judah, “Baie van hierdie werkers vanaf Asiese lande is ongeletterd, dus is dit baie moeilik vir hulle om ʼn Bybel te lees.”

Te danke aan jou geskenke en gebede is ʼn oplossing vir hierdie uitdaging gevind: oudio-Bybels in verskeie tale op mikro-SD-kaarte.

Judah verduidelik, “Hulle plaas eenvoudig ʼn mikroskyfie in hul foon en luister na die Evangelie in hul moedertaal – soms vir die eerste keer, en dit terwyl hulle in hierdie ontoeganklike land werk.”

Jy het ook gehelp om 5,000 Nuwe Testamente te borg wat gedurende Kersfeesvieringe versprei is na trekarbeiders wat dikwels deur dwangarbeid uitgebuit word.

Judah sê dat Geopende Deure die enigste organisasie is wat hom in projekte soos hierdie ondersteun.

“Sonder julle sou ons nie hierdie Bybels kon versprei nie. Julle staan werklik saam met ons om die Kerk hier te ondersteun,” sê hy.

Dankie dat jy help om die lewens van baie trekarbeiders te verander, deur vir hulle hoop te bied te midde van die mees onverbiddelike omstandighede.

*Naam verander en verteenwoordigende foto’s gebruik vir sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek