Skip to content

Jy bring nuwe krag aan oorlogsmoeë gelowiges van Iran

Saman* en Darya* was deel van dieselfde passievolle en vinniggroeiende huiskerk-netwerk in Iran. Maar nadat baie kerklede gearresteer en gevange geneem is, het hul innerlike vlam verflou en hul depressie gegroei.

“Vir amper 14 jaar het ons die Here gedien sonder enige ernstige probleme. Ons groep het voortdurend met nuwe gelowiges gegroei. Darya was een van hulle,” het Saman gesê.

Maar een aand het die plaaslike owerhede ʼn klopjag op verskeie kerklede se huise uitgevoer. Saman, tesame met van sy familie en ander kerklede, is gearresteer. Darya is nie gearresteer nie, maar sy het seker gemaak om haar boek met kerklede se kontakbesonderhede te vernietig.

“Toe ek gehoor het dat daar ʼn klopjag op die mans se byeenkoms was, het iets binne my gesterf. Op ʼn manier was ek teleurgesteld in die Here. Hoekom het Hy ons nie beskerm nie?” het Darya gesê.

Nadat Saman vrygelaat is, het die owerhede hom konstant agtergevolg, wat dit vir hom onmoontlik gemaak het om ander gelowiges te besoek. Oplaas het hy en ander vrygelate Christene die land verlaat en ʼn nuwe kerk begin, maar dit was nie alles waarvoor hulle gehoop het nie.

“Ons ondervinding in die tronk was traumaties, maar toe ons vrygelaat is, was daar niemand om ons te versorg nie,” het Saman verduidelik. “Ons het verlate gevoel deur die Kerk en ook deur God.”

Toe Darya ʼn paar maande gelede Iran verlaat het om te trou, het sy haar voormalige kerklede weer ontmoet en was sy diepbedroef.

“Ek het verwag dat my ou kerkvriende selfs meer passievol en aktief sou wees noudat hulle vry was om te evangeliseer. In plaas daarvan, was hulle depressief en stil, sonder die verlange om die Here te dien. Hulle lyding het ʼn groot effek op my gehad,” het sy gesê.

Genadiglik, te danke aan jou ruimhartigheid, was Saman en Darya in staat om ʼn konferensie vir eks-gevangenes by te woon. Die konferensie is deur ʼn vennoot van Geopende Deure georganiseer en die doel was om bewusmaking oor trauma te skep. Gedurende die vyfdag- konferensie, het hulle praktiese opleiding oor trauma, kunsterapie en Bybelse opleiding ontvang.

Te danke aan jou ondersteuning het Saman en Darya, saam met mede-kerklede, nuwe hoop gevind by ʼn trauma-konferensie.

Die konferensie het nie net gehelp om Saman en Darya te verfris nie, maar ook hulle mede-kerklede. “Dit het my regtig gehelp,” het Saman gesê. “Ek wil hierdie inligting oordra aan ander Irannese wat in dieselfde situasie is.”

Darya het bygevoeg, “Dit is so goed om my kerkvriende hier te sien. Ek sien hoe hulle verfris word, hoe hulle stadig weer vlam vat. En ek voel hoe my vuur ook weer aangesteek word.”

Wanneer Christene wat in Iran gevange geneem is, vrygelaat word, duur hulle beproewings voort. Deur jou getroue ondersteuning, leer hierdie Christene en hul families om hul trauma te verwerk. Dankie!

*Verteenwoordigende foto en name gebruik weens sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek