Skip to content

Jy bring hoop aan verwonde kinders wêreldwyd

Wasihun was net sewe jaar oud toe sy pa voor hom geslaan en doodgesteek is in Ethiopië. “Hulle het my pa vermoor omdat hy ʼn Christen was,” sê Wasihun, nou 12 jaar oud. “Hy het God baie liefgehad.”

Toe Geopende Deure die familie besoek het, was dit duidelik dat Wasihun erg getraumatiseerd en diepbedroef was. Toe ons vir hom gebid het, het trane oor sy wange gerol. Sy pa was sy held. “Ek was lief vir hom! Hy was lief vir my! Hy was my beskerming,” het hy gesê.

Jy het gehelp om hoop te bring deur Geopende Deure deur die voorsiening van kos, traumasorg, skoolgelde, inkomste-genererende aktiwiteite, en deur die familie te bemoedig met baie besoeke en briewe. Wasihun en sy sussie Bachu het ook onlangs ʼn geleentheid bygewoon vir vervolgde kinders. Hy sê,

“Na my pa se dood, het ek moed opgegee. Maar God het ons vertroos en gesê dat Hy ons elkeen se Pa sal wees. Ek wil hierdie God dien wat my deur my beproewinge gehelp het. Ek sal Hom ten alle koste dien en getuig oor alles wat Hy in my lewe gedoen het.”

Wasihun se ma, Buze, is ook diep dankbaar vir jou ondersteuning. “Te danke aan julle, kon ek en my gesin meer as net oorleef. Ek kan myself nie die lewe voorstel sonder jul hulp nie. Ek sou nie oorleef het met my nege kinders nie.”

Jy help om kinders in ander dele van die wêreld ook te versterk… soos die drie kinders wat baie erg beseer is in ʼn bomaanval op hul kerk in Indonesië.

Alvaro (5), Trinity (4), en Anita (3) maak vordering op hul pad na herstel, te danke aan jou ruimhartigheid, gebede en bemoediging. “Dankie, my vriende, vir die briewe wat julle vir my gestuur het!” sê Alvaro.

Alvaro se tweede operasie in Maleisië was suksesvol in die herstel van amper sy hele kopvel aan die regterkant van sy kop. En Anita, wat die minste brandwonde opgedoen het, maar steeds ly aan trauma, verbeter geleidelik.

“Regdeur die oorlog was die kerk naby aan ons tieners deur die ‘Scout’-groepe. Hulle was ons steunpilaar tydens hierdie ses jaar van oorlog…” – George

Jy bring ook broodnodige bemoediging aan kinders en tieners in Sirië deur kerke se ‘Scout’-groepe te borg – wat daarop fokus om God se Woord te leer. George, 17 jaar oud, sê,

“Regdeur die oorlog was die kerk naby aan ons tieners deur die ‘Scout’-groepe. Hulle was ons steunpilaar tydens hierdie ses jaar van oorlog, deur ons te ondersteun en voortdurend te werk om jongmense te dien.”

Deur jou ondersteuning bereik jy kinders in die gevaarlikste plekke met Jesus se liefde en langtermynondersteuning. Hou asseblief aan om te bid vir genesing, beskerming en voorsiening vir vervolgde kinders!

Back To Top
Soek