Skip to content

Gewelddadige vervolging van Christen-kinders styg skerp

Met Wêreldkinderdag wat op 20 November gevier is om die Verklaring van die Regte van die Kind deur die Verenigde Nasies in 1959 te herdenk, val die kollig opnuut op kinders regoor die wêreld en die verbetering van kinders se welstand.

Dit is daarom skokkend dat die vervolging van Christen-kinders regoor die wêreld skerp styg en dat hulle dikwels ʼn verskriklike prys vir hul ouers se Christelike geloof betaal. In baie lande is daar vyandigheid teenoor die Christelike geloof, met die kinders van Christene en kerkleiers wat met ernstige gewelddadige vervolging geteiken word en as kommoditeite behandel word.

In lande waar Christene vervolg word, is kinders uiters kwesbaar vir vervolging, veral in gebiede met voortslepende konflik. Christen-seuns word dikwels gedwing om by militêre groepe aan te sluit, en meisies word aan seksuele geweld en gedwonge huwelike blootgestel.

Skokkende nuwe navorsing

Dít is sommige van die bevindings in ʼn skokkende nuwe verslag deur die bedieningsorganisasie Geopende Deure Internasionaal. Die verslag, getiteld “ʼn Generasie in gevaar: Kinders- & Jeugverslag 2022”, beskryf die uiterste vervolging wat kinders ervaar in lande wat geneig is tot vervolging op grond van geloof.

Die verslag wys dat die vervolging van Christen-kinders isolerend, fel en identiteitsvormend is – met duisende kinders regoor die wêreld wat vervolging, geweld en diskriminasie weens hul geloof ervaar. Hulle word geteiken om te verhoed dat die Kerk deur die volgende generasie groei en uitbrei.

Die verslag bevat die bevindings oor vervolgde kinders en jeugdiges in die top 76 lande op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys (WWL), wat ʼn jaarlikse lys is van die lande in die wêreld waar dit die moeilikste is om ʼn Christen te wees, met vervolging wat baie hoog of uiters erg is. Vir die doeleindes van die studie en verslag, is kinders en jeugdiges geklassifeer as individue onder die ouderdom van 18 jaar.

Deur lig te werp op die unieke verhale en ervarings van jong Christene regoor die wêreld, is die verslag se mikpunt om groter begrip te skep vir godsdienstige vervolging oor verskillende generasies. Dit ondersoek ook spesifiek die taktieke wat deur vervolgers teen kinders en jeugdiges gebruik word en die impak wat dit op die breër Kerk het.

Die navorsing wys dat die kinderjare ongelukkig nie ʼn skild teen godsdienstige vervolging is nie; en net so is adolossensie ook nie ʼn buffer teen die druk om tot die meerderheidsgodsdiens te konformeer nie. Inteendeel, kinders se ouderdom kan hul kwesbaarheid verhoog weens hul afhanklikheid in die vormingstyd van hul lewens. Kinders en jeugdiges se afhanklikheidstatus in alle sfere van die lewe beteken ook dat hulle kwesbaar kan wees op die skoolterrein, in hul families en in die breër gemeenskap.

 

Belangrikste bevindings

Die ses belangrikste bevindings in die verslag is:

  • Beperking en herleiding van die toekomstige rigting van Christen-kinders en jeugdiges verseker dat hulle beperkte geleenthede het om te ontwikkel en te floreer. Die vervolging wat hulle in hul kinderjare en adolossensie ervaar, beïnvloed hierdie jongmense se toekomstige geleenthede in hul persoonlike en professionele lewens. Opsies word dikwels beperk deur diskriminasie met onderrig en uitsluiting van gemeenskappe en geleenthede, en dit vererger die armoedesiklusse vir beide die individu en die geloofsgemeenskap.
  • Christen-meisies word doelbewus seksueel voorberei in 22% van die lande waar Christene ernstige vervolging in die gesig staar. Lede van meerderheidsgodsdienste of kriminele bendes streef daarna om jong vroulike Christene deur geteikende verleiding te assimileer of te verneder. Dit lei tot seksuele geweld, gedwonge huwelike en uiteindelik gedwonge omskakeling na ander gelowe, wat op sy beurt tot kragtige assosiasies met skande en stigma lei. Voorbereiding met die doel van omskakeling kan in Egipte, Maleisië, Sirië, Pakistan en verskeie ander lande gesien word. Christen-meisies word ook doelbewus verlei deur lede van kriminele bendes, veral in Latyns-Amerika.

 

  • Kinders en jeugdiges word toegang tot ʼn Christen-ouer geweier, wat hulle verhoed om meer oor hul Christelike erfenis te leer en hulle van hul primêre bron van emosionele en ontwikkelingsekuriteit ontneem. In 84% van lande word Christen-kinders van hul Christen-ouer(s) geskei, meestal wanneer hul ouer se bekering tot Christenskap met teenstand deur hul breër familie bejeën word en dit tot ʼn verlies van kindertoesig en toegang lei. Skeiding vind ook plaas wanneer ʼn ouer of kind fisies uit die familie-eenheid verwyder word deur tronkstraf, ontvoering, gedwonge werwing of wanneer hulle gedwing word om te vlug. Hierdie bron van langtermyntrauma vir kinders en jeugdiges kan tot beide sielkundige probleme en praktiese skade lei, wat daartoe lei dat ʼn kind in sy gedagtes pynlike assosiasies met Christenskap maak. Gevalle waar kinders toegang tot hul Christen-ouers geweier word, kom in 47 van die top 50 WWL-lande voor.

 

  • Spesifieke godsdienstige vervolging van kinders en jeugdiges verbreek intergenerasionele verhoudings. Terwyl hulle nog in hul vormingsjare is, ervaar kinders en jeugdige fel vorms van vervolging wat hul gevoel van behoort en gehegtheid aan hul plaaslike geloof en/of sosiale gemeenskappe kan inhibeer of verbreek. Dit kan lei tot wrokke, misverstande en wantroue, wat die verhoudings tussen generasies beskadig, veral in gevalle waar kinders geteiken word as ʼn manier om hul ouer(s) te straf of waar hulle aktief teen hul ouers gedraai word deur uitgebreide familielede.

 

  • Goeie Nuus: Jong volwassenes identifiseer oplossings rakende die interkerklike gemeenskap, psigososiale ondersteuning en gelyke geleenthede in die samelewing sodat hulle in hul lande kan bly. Hoewel godsdienstige vervolging, konflik en ekonomiese druk Christene dikwels sonder hoop laat, rapporteer baie jong volwassenes in die Midde-Ooste en Noord-Afrika (MENA) nogtans dat hulle geroepe voel om in hul tuislande te bly en te help om die plaaslike Kerk daar op te bou. Hulle sê egter dat hulle die onderstuning van beide die plaaslike en globale Kerk nodig het om dit te kan doen.

 

  • Die godsdienstige vervolging van kinders en jeugdiges is nie noodwendig ʼn gevolg van hul persoonlike geloofskeuse of erfenis nie, maar kan dalk eerder voorkom as ʼn geleentheid om hul ouers te straf, veral in gevalle waar hul ouers kerkleiers, bekeerdes en/of ʼn ander gemarginaliseerde groep binne hul samelewing of in bendegebiede is. Die pyn van die direkte geweld wat kinders en jeugdiges ervaar, rimpel na buite om lyding in ander generasies te skep.

Die top 3 drukpunte vir meisies is seksuele geweld, gedwonge huwelike en ontvoering. Die top 3 drukpunte vir seuns is fisiese geweld, sielkundige geweld en militêre/burgermag-diensplig/diens teen die gewete.

 

Ondersteuning aan vervolgde kinders

Die uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, Lynette Leibach, sê: “Die godsdienstige vervolging van Christen-kinders is ʼn baie ernstige kwessie en ek is hartseer daaroor. Dit is skokkend om te sien dat kinders sulke gewelddadige vervolging ervaar. Daarom is dit van kardinale belang dat ons ons geloofsfamilie bystaan in lande met ernstige vervolging om kinders te beskerm teen die vernietiging wat dit veroorsaak.

“Hierdie kinders is kwesbaar en weerloos, en hulle maak op volwassenes staat vir beskerming, voorsiening en leiding. Vervolging het ʼn groot impak op hul welstand, met die bedoeling om te verhoed dat die Christelike geloof versprei en om die band tussen kinders en hul ouers te breek. Geopende Deure wil onskuldige kinders ondersteun sodat hulle sterk kan staan teen die aanslag van vervolging en aan hulle geleenthede voorsien om te ontwikkel.”

 

Metodologie van navorsing

Die verslag is deur Geopende Deure Wêreldnavorsing (WWR) saamgestel. Gedurende die rapporteringstydperk, wat van 1 Oktober 2021 tot 30 September 2022 was, het Geopende Deure WWR die godsdienstige vervolgingsdinamika in meer as 100 lande gemonitor. Analiste het data bestudeer van die top 76 lande waar die vervolging van Christene as baie hoog of uiters erg aangeteken is.

Data is ingesamel vanaf Geopende Deure se veldpersoneel en bydraers in die veld, eksterne kenners en WWR-vervolgingsanaliste. As deel van die proses om data in te samel, het streeksgebaseerde kenners kwalitatiewe data by traumaspesialiste, kerkleiers, fokusgroepe en plaaslike vervolgingskenners gekry.

Verder is vanjaar se verslag aangevul deur verdere navorsing wat deur Geopende Deure se vennote in die Midde-Ooste gedoen is onder jeugdiges in sewe lande in hierdie streek. Fokusgroepe is gehou met 6-15 deelnemers in elke groep, met twee wat in Sirië gehou is en een groep in elk van die ander lande (Algerië, Egipte, Irak, Jordanië, Libanon and die Palestynse Grondgebiede).

 

Meer inligting

Vir meer inligting of om ʼn onderhoud te reël, kontak asseblief vir Elizabeth Botha, mediabeampte by Geopende Deure, by [email protected], 083 227 8164 of 011 888 9341.

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 70 lande regoor die wêreld ondersteun met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, noodleniging aan slagoffers van vervolging en natuurrampe, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak. 

Mediaverklaring uitgereik deur Elizabeth Botha

Mediabeampte: Geopende Deure Suider-Afrika

Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341

Epos: [email protected]

Foto’s: 

Foto 1: Kinders lees uit ʼn Kinderbybel in noordelike Mosambiek.

Foto 2: Seuns by ʼn Afgaanse vlugtelingskool in Iran.

Foto 3: Twee kinders in die strate van Iran.

Back To Top
Soek