Skip to content

Beste Vriend/in van die vervolgde Kerk,

Namate ons aan die einde van nog ʼn jaar kom en voorberei vir Kersfees, word ons omring met boodskappe van vrede, liefde en vreugde – in die deuntjie van ʼn Kerslied, in winkelvensters, en deur die glimlagte van kinders. En ons kan nie help om opgewonde te raak nie!

Maar terwyl ons uitsien na hierdie feesseisoen, onthou ek ook ons vervolgde broers en susters, en die uitdagings wat hulle hierdie jaar verduur het.

Toe ek die storie van Hannah in hierdie maand se Frontlinie Geloof gelees het, was my hart seer oor die tragedies wat ons broers en susters moet verduur. En ek roep Psalm 94:3 uit tot die Here, “Hoe lank sal die goddelose, o HERE, hoe lank sal die goddelose jubel?”

En soms wonder ek of hulle ooit vrede, liefde en vreugde sal ervaar. Dan word ek herinner aan Johannes 16:20, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander.”

Wanneer ek nadink oor hierdie vers, besef ek dat ten spyte van alles wat ons broers en susters vir die kruis moet verduur, is hulle in staat om die vrede, liefde en vreugde van ons Vader gedurende hierdie feesseisoen te beleef.

Jy speel ʼn groot rol hierin… en ek is opreg dankbaar vir jou standvastige vennootskap.

Mag die Here jou en jou mense gedurende hierdie feesseisoen seën, en mag jy Sy VREDE, LIEFDE en VREUGDE hierdie Kersfees beleef!

Saam in Sy diens,

Jan Gouws
Uitvoerende Direkteur
Geopende Deure Suider-Afrika

P.S.  Jy kan in Januarie uitkyk vir die aanlyn-vrystelling van Geopende Deure se 2018 Wêreldwaarnemingslys.

Back To Top
Soek