Skip to content

Dankie dat jy saam met Nigeriese gelowiges staan

Verlede Junie het verdagte Moslem Fulani-veewagters tydens ʼn moordtog in dorpies om Jos, Plateau-staat, in Nigerië, soveel as 200 mense vermoor en duisende ontwortel.

“Hulle het geliefdes, huise en alles waarvoor hulle gewerk het verloor. Ons het mense gesien wat nog in ʼn dwaal was oor wat met hulle gebeur het,” het Kerrie*, ʼn personeellid van Geopende Deure vertel.

Die hartseer is dat hierdie mense aan hulle eie lot oorgelaat is, siende dat hulplenigingsorganisasies, vanweë die onveiligheid in die gebied, nie hul area wil binnegaan nie. Kerke het dus ingetree en informele kampe vir interne ontwortelde persone op hulle gronde begin.

Na aanleiding van die moeilike omstandighede van hierdie Christene, kon Geopende Deure– te danke aan jou hulp – optree en hulpleniging aan meer as 3,000 ontwortelde persone voorsien. Jy het gehelp om rys, mielies, olie, tamatiesmeer en toiletware, tesame met broodnodige bemoediging, aan hulle te bring. Toe die mense die bussie sien arriveer, het party van vreugde uitgeroep terwyl ander in trane uitgebars het.

“Ons dank God dat Hy Geopende Deure gebruik om hulp aan ons te bring. Selfs die regering het nie gedoen wat julle vir ons gedoen het nie. Julle het kos en toiletware vir ons gebring. Ons is werklik dankbaar,” het Mary Dung gesê, een van die begunstigdes van jou ondersteuning.

Jou ondersteuning van noodlenigingsprojekte soos hierdie een is ʼn bron van krag vir Christene in Nigerië se Middelbelt, wat steeds geteikende geweld van die Fulani ervaar, wat dood, vernietiging en ontworteling tot gevolg het. Dankie dus dat jy saam met hierdie dapper gelowiges staan deur jou vennootskap!

*Naam verander vir sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek