skip to Main Content
Iraq_2015_0260101254-web
Indonesia_2016_0500100554-web

Godsdienstige nasionalisme in Asië versnel

Godsdienstige nasionalisme het sedert die 1990’s spoed begin optel, maar dit het sonder twyfel ʼn hoër vlak betree met die weghol sege van Nahrendra Modi tydens die verkiesing in Mei 2014. Agt Christene is in net hierdie jaar doodgemaak vir hulle geloof. Soos die Wêreldwaarnemingslys se Vervolgingsanalis van Indië sê: “Dit is nie net geweld nie. Daar is verslegtende omstandighede rakende vryheid in alle aspekte van die Indiese samelewing, en Hindoe-radikales word byna ongestraf gelaat deur die regering.” Die Indiese Kerk is massief, 64 miljoen, waarvan miskien 39 miljoen van hulle vasgevang is in die maalkolk van direkte vervolging. Boeddhistiese nasionalisme moet ook nie vergeet word nie. In Bhoetan beskou die regering Christene nie as Bhoetanese nie. ʼn Nuwe elektroniese identiteitskaartsisteem ignoreer sommige dele van die Christenminderheid, wat lei tot ʼn magdom diskriminasie.

Asiese regerings is meer onseker, en speel die nasionalistiese kaart

Nasionalisme is altyd ʼn kaart wat ʼn onseker regering sal speel. Viëtnam het ʼn nuwe regering, Maleisië se leier verkeer onder druk weens aantygings van korrupsie, en in China moedig President Xi Jinping Chinese nasionalisme selfs in die gebied van godsdiens aan. Hy beweer dat as jy aan ʼn godsdiens moet behoort, probeer ʼn Chinese een soos Konfusianisme – wat slim is, want dit is nie eintlik ʼn godsdiens nie, maar ʼn reeks morele verpligtinge. Nie ʼn enkele land in Oos-Asië het tydens die verslagdoeningsperiode punte verloor nie. In meeste van hierdie lande, sê regerings om, byvoorbeeld, ʼn Sri Lankaan te wees, is om ʼn Boeddhis te wees; om ʼn Maleier te wees, is om ʼn Moslem te wees. Christene is altyd in die kwesbare minderheid in Asië met die uitsondering van die Christenmeerderheid in die Filippyne, maar selfs hier word Christenbekeerling in Moslembeheersde Mindanao vervolg. Dit is ʼn maklike en algemene metode vir wankelende regerings om goedkoop ondersteuning te verkry, deur Christene as die sondebok te gebruik.

Sudan-North_2015_0380102661_2-web
Israel_2007_0260005419-web

Islamitiese radikalisme in sub-Sahara-Afrika is alledaags

Sub-Sahara-Afrika haal natuurlik vir jare lank die hoofopskrifte weens die wrede aanvalle deur Islamitiese militante rebellegroepe soos Al-Shabaab en Boko Haram. Laasgenoemde is in November 2016 deur die VN daarvan beskuldig dat hul Afrika se dringendste noodtoestand veroorsaak het met agt miljoen wat die gevaar loop om te sterf van die honger, as ʼn resultaat van hul geveg. Dit duur steeds voort. Ten minste ʼn dosyn Christene is hierdie jaar in Somalië doodgemaak deur Al-Shabaab militante.

Maar wat minder bekend is, is dat die Islamitiese militante veld wen in meer sektore van die samelewing. In meeste van hierdie lande is dit nie net geweld wat vervolging aanvuur nie, maar alle WWL-“druk kategorieë” (waar die druk gemeet word wat Christene ervaar in die vyf areas van private, familie, gemeenskap, kerk en nasionale lewe) dui daarop dat vervolging toeneem.

Dit is merkwaardig dat Kenia, ʼn land met ʼn Christenmeerderheid, steeds diep geanker is in die top 20. Die vervolgingsanalis vir hierdie streek het gesê, “Dit blyk asof ekstremistiese, gewelddadige bewegings meer radikale mense agterlaat.” Hausa-Fulani veewagters in die Middel Belt-strook van Nigerië het duisende Christene van hul grond af verdryf. Somalië is #2 op die WWL omdat, soos ʼn plaaslike gelowige gesê het, “Alles werk teen ʼn Christen.”

Regoor die Sahel-streek versleg omstandighede vir Christene. Volgens ʼn Wêreldwaarnemingslysverslag in Augustus 2016, “Hierdie is ʼn kritiese tyd vir die toekoms van Christenskap in die streek… Indien die onstabiliteit hand uit ruk en die militante hulle sin kry, sal Christene doodgemaak word en verban word uit die hele streek.”

Die Midde-Ooste is gepolariseerd tussen meer radikale en meer outokratiese regimes

Dit is geen verrassing dat met die militêre onttrekking van die VSA in die Midde-Ooste, twee streeksmagte die vakuum binnegedring het nie – en beide is ekstremistiese regimes, Saoedi-Arabië en Iran. Die Saoedi’s illustreer hul politieke invloed in Jemen, namate hulle probeer om die Sjia-Houthi te verwyder. Die land het ʼn woesteny geword, met talle Christene wat vasgevang is in die kruisvuur. Iran, nou dat sy ooreenkoms met die VSA afgehandel is, het ʼn rekordaantal huiskerk-Christene gearresteer, en baie verloor hul lewensbestaan wanneer hulle duur boetes moet betaal.

Hierdie tendense het egter altyd ʼn tweeledige effek. Sommige Moslems sien ʼn lelike gesig van Islam en kom tot bekering, wat lei tot die merkwaardige groei van die sogenaamde GVM-beweging (Gelowiges vanuit ʼn Moslemagtergrond); maar ander raak meer fundamentalisties, óf uit oortuiging óf slegs om in te pas.

Sektariese skeidings neem in baie areas toe. In teenstelling met hierdie radikale regimes, is ʼn groep van meer outokratiese regimes, soos in Sirië, Egipte en Algerië, wat ekstremiste beveg. Sirië het vanjaar militêre ondersteuning vanaf Rusland ontvang. Siriese Christene in regering-beheersde gebiede het in baie gevalle net soveel vryheid as voorheen, en meeste Christene het nou gevlug van die gebiede onder beheer van die rebelle. Maar selfs in die meer vreedsame Jordanië, waar die Koning probeer om die ekstremiste te beheer, het die teenreaksie van sy pogings gelei tot meer druk op Christene.

Christene word in meer lande as vantevore doodgemaak vir hul geloof

Die hartseer feit dat Christene doodgemaak word, het voortgeduur in lande waar dit ontstellend algemeen is, in sub-Sahara-Afrika in besonder – ʼn slagveld vir die laaste dekade. Maar gedurende die WWL 2017 se verslagdoeningsperiode, is die aldeurdringendste geweld aangeteken in Pakistan.

Nie net bevind Gelowiges vanuit ʼn Moslemagtergrond (wat gereeld geteiken word) nie, maar ook ander Christene, hulself die slagoffers van geweld. In Latyns-Amerika, waar groot gebiede deur die Mafia of guerrillas beheer word, kan dit fatale nagevolge hê om op te staan teen korrupsie. Baie selde is daar ʼn verslagdoeningsperiode waartydens die doodmaak van Christene geografies verspreid is. Ironies genoeg is daar minder berigte ontvang van Christene wat in Sirië en Irak doodgemaak is, omdat meeste reeds die gebied wat die Islamitiese Staat in 2014 as kalifaat gevestig het, verlaat het.

Die Goeie Nuus

Terwyl vervolging byna nie met “goeie nuus” vereenselwig kan word nie, sê baie Christene in hierdie lande baie vinnig dat hulle ontberings dikwels ten goede meegewerk het deur die bestiering van die Here. Inderdaad, ʼn sentrale bedieningsaktiwiteit van Geopende Deure is om teenwoordig te wees vir hierdie gemeenskappe wat swaarkry en om maniere te vind om plaaslike gelowiges meer onwrikbaar te maak, sodat hul vervolging ʼn geleentheid word om die Evangelie, “goeie nuus”, te verkondig – dikwels op ʼn manier wat nie moontlik sou wees onder meer vreedsame omstandighede nie. Hier volg ʼn opsomming van ʼn paar elemente van “goeie nuus”.

Iran_2009_0050101683-web

Die Chinese Huiskerk het die geleentheid om meer inheems te word

Meer as 97 miljoen mense in China is Christene; 60 miljoen plus, aanbid nie in staat-beheersde kerke nie, maar hulle leiers is bewus daarvan dat hulle dikwels baie lyk, klink en aanbid soos hul Westerse eweknieë. “Ons is nie Chinees genoeg nie,” het ʼn pastoor van Beijing gesê. Die afgelope paar jaar sedert 2012, het die staat se beheer verskerp, alhoewel oneweredig, in President Xi se nuwe China. Een pastoor in Sjanghai beskou dit as ʼn seëning van die Here af. Hy moes sy groeiende kerk noodgedwonge twee jaar gelede sluit, omdat amptenare onrustig geraak het oor die grootte daarvan. Die gemeente het vir ʼn ruk lank in ʼn park byeengekom en lynreg teen hul opdrag om te ontbind, ingegaan. Maar nou kyk hy anders na dinge. “Ons het blindelings gedoen wat die Westerse Kerk doen. Maar die Here het hierdie vervolging toegelaat om ons daarvan te weerhou om ʼn megakerk te bou en ander na te boots. Noudat ons weer in kleiner groepe moes verdeel, glo ek het ons die geleentheid om ʼn ware inheemse Kerk te word.”

Christene sien uit daarna om terug te keer na hul historiese huise in noordelike Irak

Die dae van ʼn Islamitiese Staat-beheersde kalifaat in noordelike Irak en Sirië is getel. Sedert ʼn Augustus 2016 offensief, is die Islamitiese militante verdryf deur ʼn koalisie van Irakkese en buitelands-gesteunde magte. Party van die dorpies soos Qaraqosh – wat voorheen Christelike dorpe was – is bevry. Irak se twee grootste stad – Mosoel – gaan binnekort in die hande van Irakkese magte wees. Meer as 80,000 Christene het uit hul huise gevlug in 2014, en is sedertdien vlugtelinge in Irakkese Koerdistan. “Ons kan nie wag om terug te gaan nie,” het een gesê, in Erbil, en toe bygevoeg, “Maar ons gaan teruggaan met ʼn groter vasberadenheid om die vryheid te behou.” Terwyl Christene baie graag wil terugkeer na gebiede met ʼn Christenmeerderheid, blyk dit asof diegene wat in stede soos Mosoel gewoon het, nie so gretig is nie, “Ek is verraai deur my Moslembure… Hoe kan ek nou teruggaan om saam met hulle te woon?”

Gelowiges vanuit ʼn Moslemagtergrond in Indonesië het geen vrees in hul nuwe geloof nie

Daar is amper geen kategorie van Christene in die wêreld wat dit moeiliker het as Gelowige vanuit ʼn Moslemagtergrond (GVM) nie. Baie moet hul geloof geheim hou. Meeste staar daagliks vyandigheid vanaf hul families, gemeenskap en die samelewing in die gesig. Maar dis nie altyd die geval nie. In die land met die wêreld se grootste Moslembevolking – Indonesië – staan ʼn nuwe tipe Gelowige vanuit ʼn Moslemagtergrond op: Onafhanklik, sterk en vreesloos. Hulle getal mag ʼn aanduiding wees, want hulle is baie. Maar soos ʼn ervare analis van die land sê, “Hierdie nuwe GVM’s leef ʼn lewensstyl wat vreesloos is, hulle dink ook nie dat hulle soos die Christene moet wees wat die Evangelie met hulle gedeel het nie – hulle gaan ʼn nuwe stroom in die Kerk vorm, wat meer Bybels en dinamies gaan wees. Hulle gaan tot seën van die wêreld wees.”

Die “uittog” van Christene in die Midde-Ooste het drasties afgeneem… vir nou

Meeste Christene in die Midde-Ooste mag dalk ʼn grens binne die streek oorgesteek het, maar vir die oomblik het hulle nie die streek geheel en al verlaat nie. Maar ʼn groot aantal het, en om te vlug na ʼn naburige land is dikwels die eerste stap om te verhuis na die Weste. Soos ʼn persoon in Jordanië gesê het, wat in die vlugtelingekampe gewerk het: “Kyk, as jy ʼn Christen was en die finansies gehad het, dan het jy reeds getrek.” Dus het die aantal mense wat die streek verlaat, gedaal, alhoewel baie Christene vrees dat hulle bestaan in hierdie streek tot ʼn einde gaan kom. Geopende Deure skat dat daar tans 16,5 miljoen Christene in die Midde-Ooste en Turkye is, insluitende swerwende en uitgeweke Christene in die Golfstate.

Sommige migrante bring nuwe lewe na Westerse kerke

Die aantal Christene onder die migrante-populasie wat Europa binnegaan, blyk relatief min te wees, maar kerke in lande soos Duitsland, Swede en die Verenigde Koninkryk, wat die migrante verwelkom, vind ook dat hulle nie net gewers is nie, maar ook ontvangers. Christene in baie dorpe het hulle tyd en vaardighede vrywillig aangebied om die plaaslike taal te leer. Hierdeur is verhoudinge gebou wat tot by die Kerk strek. Party Moslem-migrante het tot Christenskap bekeer, en alhoewel daar etiese kommer is dat baie dit doen om hul asiel-aansoeke te bevorder, geniet sommige kerke die voordele van ʼn nuwe instroming van jong gelowiges. ʼn Pastoor van ʼn Cambridge kerk in Engeland het onlangs gesê, “Hulle het ander vrae, en merkwaardige ervaringe, en ons het gegroei namate hulle nuuskierigheid ons tot nuwe insigte oor ons geloof gebring het.” ʼn Ander pastoor van sentraal-Duitsland het ook gesê, “Hulle herinner ons hoe ware geloof lyk.”

Bangladesh_2017_0500101474-web
Central+African+Republic_2014_0430100928-web

WÊRELDWAARNEMINGSLYS GEBEDSFLITSE

Die Wêreldwaarnemingslys Gebedsflitse fokus op die verskillende lande op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys. Die weeklikse e-pos gee ʼn kort oorsig oor ʼn land en relevante gebedsversoeke vir die land. Dit sluit ook PowerPoint® skyfies in, wat gebruik kan word in eredienste, aankondigings of ander aanbiedings. Indien jy hierdie weeklikse e-posse wil ontvang, voltooi asseblief die vorm hieronder.

Back To Top
Soek