skip to Main Content

Wêreldwyd is daar 2,48 miljard Christene. Ongeveer 215 miljoen van hierdie Christene, of 1 uit elke 12 Christene in lande op die Top-50 van die Wêreldwaarnemingslys, verduur “uiterste” mates van vervolging. Dit is volgens Geopende Deure se 2018 Wêreldwaarnemingslys (WWL), wat vandag vrygestel is.

Geopende Deure, stel jaarliks ʼn Wêreldwaarnemingslys vry wat die Top-50 lande lys waar dit die moeilikste is om ʼn Christen te wees. Die WWL meet die verskillende tipes vervolging wat Christene regoor die wêreld ervaar vanaf hul regering, gemeenskap en selfs vanaf hul eie familielede. Dit neem ook die beperkinge in ag wat Christene in hul private lewens ervaar, of hulle saam met ander gelowiges byeen kan kom, asook die fisieke geweld wat teen hulle gepleeg word.

Hierdie jaar het Noord-Korea en Afganistan, volgens die 2018 WWL, die hoogste totale vervolgingstelling verkry en staan dié twee lande bo aan die lys. Alhoewel dié lande se politiese en sosiale strukture wesenlik verskil, het die navorsingsperiode vanaf November 2016 tot Oktober 2017 aangedui dat hierdie twee lande die maksimum punte gekry het vir die mate van druk wat op Christene uitgeoefen word. Dit is slegs die punte vir “geweld teen Christene” wat die onderskeid tussen die eerste en tweede plekke getref het. Pakistan het egter die nie-benydenswaardige eer verkry om die enigste land op die 2018 WWL te wees, wat die maksimum punte vir “geweld teen Christene” verkry het.

 Die top tien lande waar Christene tans die meeste vervolging ervaar:

#1 Noord-Korea (94/100)
#2 Afganistan (93/100)
#3 Somalië (91/100)
#4 Soedan (87/100)
#5 Pakistan (86/100)
#6 Eritrea (86/100)
#7 Libië (86/100)
#8 Irak (86/100)
#9 Jemen (85/100)
#10 Iran (85/100)
Bron: Geopende Deure/World Watch Research

 Nuwe lande op die Top-50 en lande wat die meeste gestyg het op die 2018 WWL

Libië (86 punte/#7) en Indië (81 punte/#11) het albei met 8 punte gestyg, wat in Indië se geval duidelik as gevolg van die groeiende invloed van radikale Hindoeïsme was. Tydens die 2018 WWL-verslagdoeningsperiode, is ten minste 8 Christene in Indië doodgemaak vir hul geloof deur militante Hindoes, ten minste 34 kerke beskadig en amper 24,000 Christene aangeval.

Nuwe lande wat die Top-50 gehaal het, is Nepal (63 punte/#25) en Azerbaidjan (57 punte/#45). In Nepal het ʼn skerp toename in Godsdienstige nasionalisme plaasgevind, met Hindoe-radikales wat aktief meer druk op Christene plaas, asook geweld teen Christene pleeg. In Azerbaidjan het die toegang tot meer inligting aangaande polisieklopjagte en arrestasies, onder andere, ʼn styging in die puntetoekenning tot gevolg gehad.

 Meer as 3,000 Christene doodgemaak vir hul geloof

Volgens Geopende Deure se navorsing, is 3,066 Christene regoor die wêreld na raming doodgemaak tydens die 2018 WWL-verslagdoeningsperiode. Soos duidelik sigbaar in die onderstaande tabel, het die aantal Christene wat doodgemaak is vir hulle geloof, weer gestyg vanjaar na ʼn afname tydens die 2017 WWL-verslagdoeningsperiode.

Aantal Christensterftes aangeteken:

2018 WWL: 3,066
2017 WWL: 1,207
2016 WWL: 7,106
Bron: Geopende Deure/World Watch Research

Daardie afname was spesifiek weens ʼn afname in Boko Haram-aktiwiteite in Nigerië tydens die 2017 WWL-verslagdoeningsperiode. Maar, die sterftes in Nigerië het weer gestyg wees die vlae aanvalle deur goed-bewapende Fulani-Moslem-veewagters op Christengemeenskappe in die Middel-Belt-state. Berigte verwys hierna as “godsdienstige suiwering” (etniese suiwering gebaseer op godsdienstige affiliasie).

“Geweld teen Christene hier op ons eie kontinent van Afrika, het drasties toegeneem – dis veral die Kerk in lande soos Nigerië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Kongo (DRK), wat hieronder gebuk gaan,” meen Jan Gouws, Uitvoerende Direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika.

 Om vervolging te meet is meer as net die aantekening van gewelddadige insidente

Vervolging beteken nie noodwendig sterftes of lang gevangenisstrawwe nie. Die Maledive, met 78 punte in die 13de plek, is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Alhoewel berigte van gewelddadige insidente teen Christene blyk om min te wees in hierdie sogenaamde vakansiebestemming, dui navorsing oor die “kerklewe in die Maledive” daarop dat die druk op Christene op die maksimum is.

Soos die Besturende Direkteur van Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys Navorsingspan, Frans Veerman, verduidelik: “Dit is nie moontlik om kerkdienste te hou nie, en selfs die meeste buitelandse Christene verkies om nie byeenkomste te reël nie, uit vrees vir die nagevolge. Wanneer jy die individuele landsoorsigte lees, kry die puntetoekennings ʼn dieper betekenis – ʼn realiteit.”

 Om die pleidooi van vervolgde Christene bekend te maak

Die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys en die omvattende landsoorsigte word jaarliks gepubliseer as ʼn instrument 1) om bewusmaking te skep deur middel van die media; 2) vir politici om ingeligte besluite te neem; en 3) vir kerke regoor die wêreld om Christene op die frontlinies te ondersteun.

Die Goeie Nuus

Terwyl vervolging byna nie met “goeie nuus” vereenselwig kan word nie, sê baie Christene in hierdie lande baie vinnig dat hulle ontberings dikwels ten goede meegewerk het deur die bestiering van die Here. Inderdaad, ʼn sentrale bedieningsaktiwiteit van Geopende Deure is om teenwoordig te wees vir hierdie gemeenskappe wat swaarkry en om maniere te vind om plaaslike gelowiges meer onwrikbaar te maak, sodat hul vervolging ʼn geleentheid word om die Evangelie, “goeie nuus”, te verkondig – dikwels op ʼn manier wat nie moontlik sou wees onder meer vreedsame omstandighede nie. Hier volg ʼn opsomming van ʼn paar elemente van “goeie nuus”.

 Tanzanië tuimel van die Lys af

Tanzanië is die opvallendste voorbeeld van ʼn land waarin omstandighede vir Christene merkwaardig verbeter het. Dit het die 33ste posisie behaal op die 2017 WWL met 59 punte. Vir die 2018 WWL het dit ses punte geval, en nie die Top 50 behaal nie. (Maar, 53 punte beteken egter dat daar steeds ʼn hoë mate van vervolging plaasvind in die land.)

Die meerderheid van die mense in Tanzanië is Christene, maar die persentasie Moslems groei, veral jonger Moslems wat vatbaar is vir ‘radikale invloede’ van groepe in naburige lande, soos al-Shabaab (wat werksaam is in Somalië en Kenia).

Daar is ʼn groep wat ‘Uamsho’ genoem word (lett. ‘Die Ontwaking’) wat outonomie en Islamitiese wetgewing vir die eiland Zanzibar wil hê. Hulle het begin om gewelddadig teenoor Christene op te tree om hulle eise af te dwing. Maar aan die einde van 2015 is President John Magufuli verkies, wat ʼn keerpunt beteken het. Sy administrasie het baie gedoen om Islamitiese groepe hok te slaan. Talle leiers is gevang, sommiges het weggekruip. Geweld teenoor Christene het aansienlik afgeneem.

 Onrus in die regering lei tot beter tellings vir Ethiopië en Kenia

Kenia beklee posisie 32 op die 2018 WWL. Dit het ses punte verbeter na ʼn telling van 62. Ethiopië is in die 29ste posisie en het twee punte verbeter. Dit het ook ʼn telling van 62.

Die rede vir die ‘verbetering’ in hierdie twee lande is opmerklik dieselfde. In beide gevalle het Moslems en Christene ʼn gemeenskaplike saak gevind.
In Kenia het die 2017 presidensiële verkiesing baie onrus in die land veroorsaak. Uhuru Kenyatta is verklaar as wenner, maar sy teenstaande Raila Odinga het die uitslae bevraagteken. Later het die opposisie die nuwe verkiesing geboikot.

“Wat gebeur tydens die verkiesings is dat jou stam belangriker word as jou geloof,” verduidelik ʼn Geopende Deure-navorser. “Dus kom Moslems en Christene van dieselfde stamme beter oor die weg.” Keniaanse politiese alliansies hang van die stam af.

Tweedens, oefen die regering minder druk op Christene uit. Dit is veral waar in Ethiopië waar baie mense vir die afgelope twee jaar, teen die regering geprotesteer het. Hulle soek verandering – dat korrupsie beëindig sal word, meer respek vir menseregte, meer demokrasie, ʼn regverdiger verspreiding van rykdom, ens. Hier het die Christene en Moslems mekaar ook gevind in ʼn gemene saak. Die proteste en onrus het die regering gedwing om ʼn noodtoestand in Oktober 2016 te verklaar en dit was vir meeste van 2017 van krag. Dit het beteken dat die regering minder tyd gehad het om Christene te vervolg wat hulle geloof buitekant die kerkmure beoefen het.

Die slegte nuus is dat alhoewel die 2018 WWL aandui dat daar minder vervolging in Ethiopië was, het die regering gewelddadig toegeslaan op die opstaanders. Baie mense is beseer of doodgemaak, maar kon nie in ag geneem word tydens die WWL-opname nie, aangesien hierdie menseregte oortredings is, eerder as vervolging weens Christengeloof.

In Kenia sien ons ʼn nuwe kommerwekkende verskynsel. Radikale Islamitiese al-Shabaab het meer as 30 Christene doodgemaak deur onthoofdings. Dit blyk ʼn nuwe taktiek te wees om die Christengemeenskap vreesagtig te maak en hulle in hulle massas op vlug te laat slaan.

 Viëtnam keer terug na ‘normaal’

Op die 2017 WWL het Viëtnam 71 punte behaal, ʼn toename van vyf punte in vergelyking met die 2016 WWL. Daardie toename het hoofsaaklik te doen met drie moorde en ander geweld. Maar, die 2018 WWL-verslagdoeningsperiode het nie so baie geweld gesien nie, alhoewel druk toegeneem het en steeds op ʼn hoë vlak is. Hoewel dit goed is dat geen Christen in Viëtnam doodgemaak is vir hulle geloof nie, slaan owerhede steeds toe op Christen-etniese minderheidgroepe en word daar ʼn nuwe wet teenoor alle Christene, met betrekking tot geloof in 2018 geïmplementeer.

 Minder geweld in Sirië

Sirië is ʼn land wat ver geval het op die 2018 WWL. Dit het 10 punte verbeter en is nie meer onder die Top 10 nie. Hierdie verbetering kan toegeskryf word aan die gewelds-kategorie. Daar was minder insidente van geweld teenoor Christene aangemeld. Dit was hoofsaaklik omdat die gebiede wat deur die Islamitiese Staat (IS) beheer is, herower is, maar ʼn ander faktor is die uitdaging om bevestigde inligting vanuit die land te ontvang te midde van die chaos van die burgeroorlog. Anti-Christen-geweld het nie verdwyn nie: Daar was steeds Siriese Christene wat ontvoer, fisiek en seksueel mishandel is, en vanaf hul huise en hul land gevlug het tydens die 2018 WWL-verslagdoeningsperiode.

 Lande wat blyk asof dit verbeter het, maar nie werklik het nie

Pakistan van 88 na 86: Klein verbeterings in sommige areas van die Christenlewe, terwyl geweld steeds op die maksimum vlak is. Dit is amper geen verbetering nie.

Nigerië van 78 na 77: Boko Haram het minder invloed, maar ongelukkig maak die Fulani-Moslemboere op vir daardie feit omdat hulle baie gewelddadig teenoor Christene is, deur hulle van hulle plase af weg te jaag.

Katar en Bangladesj het albei laer tellings. Vir Katar beteken dit nie ʼn verbetering van die omstandighede nie, maar dit het egter meer te make met die verfyning van hoe Christene vanuit ʼn Moslemagtergrond en hulle gemeenskappe, beoordeel is. Bangladesj het minder geweld gesien en meer pogings vanaf die regering om toe te slaan op radikale Islamitiese groepe, wat tot ʼn mate die druk op Christene verlig het.

WÊRELDWAARNEMINGSLYS GEBEDSFLITSE

Die Wêreldwaarnemingslys Gebedsflitse fokus op die verskillende lande op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys. Die weeklikse e-pos gee ʼn kort oorsig oor ʼn land en relevante gebedsversoeke vir die land. Dit sluit ook PowerPoint® skyfies in, wat gebruik kan word in eredienste, aankondigings of ander aanbiedings. Indien jy hierdie weeklikse e-posse wil ontvang, voltooi asseblief die vorm hieronder.

Back To Top
×Close search
Soek