Hoe ervaar sommige Christene die lewe in geslote lande?
Wel, dikwels moet hulle in die geheim aanbid, permitte vir kerke word geweier, hulle mag nie ʼn Bybel verkoop, weggee of besit nie. In geslote lande word Christene dikwels nie toegelaat om te evangeliseer nie, word hul 'n opvoeding geweier sowel as werksgeleenthede en selfs mediese sorg. Hulle word valslik deur bure van misdade beskuldig en word deur die owerhede aangekla; gedwing om ander godsdienste te beoefen; vermy deur hul gemeenskap en selfs hul eie families. Openlike uitsprake rakende hul oortuiginge aangaande Jesus is onmoontlik.
Watter vorme neem vervolging vandag aan?
- Fisiese en verbale mishandeling;
- Gevangenskap (tronkstraf);
- Ontvoering;
- Omkopery;
- Deportasie;
- Vandalisme pleging aan eiendomme;
- Boetes;
- Foltering;
- Moord.
Die aantal Christen-martelare van verskeie lande, aangemeld gedurende 2010:
Nigerië – 2 000, Irak – 90; Pakistan – 29; Laos – 29; Egipte – 9, Indië – 9.
Hoe bly vervolgde Christene geestelik moedig?
Deur te lewe in die teenwoordigheid van God, die Lewende Woord, deur gemeenskap met medegelowiges, deur die gebede van God se mense en ook deur die wete dat die Kerk nie van hul vergeet het nie!
Hoe lyk vervolging in sommige spesifieke nasies in die wêreld vandag?
Vervolging in Noord-Korea vandag:
Daar is bykans geen woorde wat die wreedheid van die Noord-Koreaanse staatsbestel kan beskryf nie. Derduisende leef en sterf (ook uiteindelik) in konsentrasiekampe. Om ʼn Bybel te besit bied genoegsame rede om doodgemaak te word of om saam met hul familie vir die res van hul lewens in die tronk toegesluit te word. Nagenoeg 400 000 Christene word feitlik dag en nag strak dopgehou, terwyl tussen 50 000 en 70 000 Christene in arbeidskampe gevange gehou word.
Vervolging in Iran vandag:
Die amptelike godsdiens in Iran is Islam en daar is min Christene onder die bevolking. Alhoewel etniese (Armeens en Assiriese) Christene 'n erkende godsdienstige minderheidsgroep is en verseker word van godsdiensvryheid, is daar verslae van gevangenisstraf, fisiese mishandeling, teistering en diskriminasie as gevolg van hulle geloof. Sodra 'n Christen in hegtenis geneem word in Iran, sal hulle hele lewe gemonitor word deur die regering. Sou 'n Christen die Evangelie met 'n Moslem deel word die risiko van ʼn nadraai deur Islamitiese ekstremiste ʼn werklikheid. Sodanige geweld kan kom vanuit 'n bron so naby as 'n persoon se eie familie. Onder Sharia wetgewing is dit verbode vir 'n Moslem om Islam te verlaat en ʼn ander godsdiens te aanvaar – indien ʼn persoon hul bekeer tot ʼn ander geloof staar hul die doodstraf in die gesig.
Vervolging in die Maledive vandag:
In die Maledive is Islam die amptelike staatsgodsdiens en alle burgers moet Moslem wees. Die vervolging van Christene in die Malediviese eilande is sistematies: wetgewing verbied die beoefening van enige godsdiens, behalwe Islam; die regering sien hulself as die beskermer en verdediger van Islam; kerke is verbode; die invoer van Christelike materiaal is verbode; algehele diskriminasie teen nie-Moslems vind plaas; sosiale beheer is oorweldigend en die gemiddelde Malediver stem saam met die verbod op enige ander godsdiens behalwe Islam. In hierdie nasie – een van die minste geëvangeliseerde nasies in die wêreld – is daar net 'n handjievol van inheemse Christene wat hulle geloof individueel uitleef en in uiterste geheimhouding uit vrees om ontdek te word.
Vervolging in Irak vandag:
Die Christengemeenskap is ontmoedig deur die talle Christene wat steeds Irak verlaat. Daar word beweer dat daar ongeveer 345 000 Christene tans in Irak is – baie minder as die 850 000 in 1991. Sedert die val van Saddam Hussain het die situasie vir Christene aansienlik versleg. Geweld teen Christene word gemotiveer deur godsdienstige, politieke, finansiële en sosiale redes. Christene ly onder die anti-Westerse atmosfeer in die land en word gesien as Westerse medewerkers.