Geen Berg te Hoog of Rivier te Wyd
Soos sardientjies het die 200 kinders in die een vertrek – met net drie venstertjies vir ventilasie – by 'n klein huiskerk bymekaargekom. Party kinders het vir ure gestap vanaf hul huise of plase, selfs 'n paar riviere oorgesteek om êrens in ’n verafgeleë dorpie in Noordelike Viëtnam, na 'n gasspreker – van 'n ander land – te kom luister. Hulle het nog hul skooluniforms aangehad.Die Geopende Deure-besoeker het die kinders gevra om op te staan en hulle handjies so hoog as moontlik in die lug op te steek, asof hulle na die hemel reik. “Daar is ’n baie beter manier om uit te reik na die Here in die hemel,” het die besoeker verduidelik terwyl sy haar hande saamgevou het asof in gebed. Die kinders het onmiddellik hulle handjies saamgevou en saam met die besoeker gebid.
“Waarvoor het jy gebid?” het die besoeker later vir Sai* gevra. Nes baie van die kinders, is Sai se ouers boere wat op ’n stukkie land boer. Sai het daardie dag 50 kilometer gestap om hierdie geleentheid by te woon, nes sy elke week doen om Sondagskool by te woon.
“Ek het gebid dat die Here my moet help om eendag voltyds in die bediening te kan wees,” het Sai geantwoord.
12-jarige Sai het verduidelik dat sy alreeds haar maats in die dorp en by die skool van Jesus vertel. En dat dit altyd lekker is om een van hulle saam te bring Sondagskool toe of na die Kinderkampe wat deur haar plaaslike gemeente aangebied word. (Hierdie kampe word geborg deur Geopende Deure.)
“Sommige kinders het nie gehou van wat ek vertel het nie en wou daarom nie meer vriende met my wees nie,” het sy gesê.
Talle gesinne in hierdie gebied het tot bekering gekom deur hulle kinders wat die Sondagskoollesse en Kinderkampe bygewoon het. In ander gevalle, is kinders by die huis getugtig omdat hulle Christelike aktiwiteite bywoon. Sondagskoolonderwysers wat opleiding van Geopende Deure ontvang het, meen dat sommige kinders so ver sal gaan as om vir hul ouers te jok of by die huis uit te sluip, nét sodat hulle die Kinderkampe kan bywoon.
Jou getroue ondersteuning stel Geopende Deure in staat om die Geïllustreerde Kinderbybel te vervaardig, te druk en te versprei en verleen sodoende aan Sai en kinders nes sy in die Noorde, toegang tot die Woord van God. Elke Kinderbybel bevat 365 stories vanuit die Ou Testament – een vir elke dag van die jaar. Aangesien die aantal Kinderbybels beperk is, lees vyf tot ses kinders saam aan een Bybel. In sommige gebiede ontvang die plaaslike kerke slegs een kopie waaruit die Sondagskoolonderwysers aan die kinders kan voorlees.
*Skuilnaam
BronGeopende Deure Nuusbrief Februarie 2012
VertalerGeopende Deure Suid-Afrika